Verlede maand
Haweloses bly in saal veilig
OOMPIE: Jakob Strydom (80) is die oudste van die manne hier onder lockdown.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Sowat 79 haweloses word nou gedurende die Covid-19-pandemie in ’n saal gehuisves.

Son se verslaggewer is gister nie toegelaat om die fasiliteit te besoek nie.

Die toesighouer, Vincent Andries, sê weens die lockdown-maatreëls kan hulle niemand toelaat nie.

’n Paar van die haweloses het wel na die hek gekom en met Son gepraat.

Ashley Oosthuizen sê hulle is na die saal geneem kort nadat die lockdown afgekondig is.

“Die meeste van ons het onder brûe of in die bosse in die omgewing gebly,” vertel Oosthuizen.

Volgens hom het Andries hulle almal na dié saal gebring waar hulle almal getoets vir die corona-virus is.

Ruben Davids sê dit was wonderlike nuus toe hulle hul uitslae ontvang het.

“Daar is aan ons gesê dat ons almal negatief vir Covid-19 getoets is.”

Fanie Smith sê hy verstaan dat die maatreëls by die saal baie streng is.

Volgens Smith is dit goed dat niemand by hulle toegelaat word nie. “Iemand van buite kan moontlik die virus hê en ons almal dan kom aansteek.”

Bedank

Klaas Keywa sê hulle slaap snags warm en kry drie maaltye per dag. “Ons slaap almal ’n meter weg van mekaar af, en almal gee hulle samewerking.”

Volgens die groep het vyf van hulle tjommies oor die mure geklim oor hulle nie meer hier wou wees nie.

Oom Jakob Strydom (80) is een van die oudste mense hier. Strydom loer deur ’n stukkende venster en sê hy voel baie gelukkig.

“Ek weet net nie wat gaan gebeur wanneer ons die dag dié plek hier gaan verlaat nie,” sê Strydom bekommerd.

Oosthuizen, wat namens die ander praat, wil Andries bedank en almal wat dit vir hulle moontlik maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters