10 dae gelede
Hande in hare oor kerkhoed
PRAGTIG: Genie Sheldon met een van haar kerkhoede.  ~ Foto Verskaf

ONS almal ken die sêding: “Wat is ’n huis sonder ’n moeder?”

Maar daar is ook ’n ander een: Wat is ’n kerksuster sonder haar hoed?

In Worcester sorg hierdie heilige hoofdeksels vir groot hoofbrekens.

’n Kerksuster (50) voel ingeloop oor ’n hoedemaker volgens haar net nie uitstiek met haar beloofde hooftooisel nie.

Suster Genie Sheldon is bitter kwaad dat sy nou nog nie die hoed ontvang het waarna sy so uitgesien het nie.

Sheldon sê sy het in Oktober verlede jaar op Facebook afgekom op ’n besigheid wat kerkhoede maak.

“Ek het toe kontak gemaak omdat ek so graag een van die hoede wou bestel.

“Ek het toe met die dame gesels wat die eienaar van die besigheid is en ’n paar dae later het ek die geld inbetaal.

“Sy het eers vir my gesê dat ek net ’n deposito kan betaal, maar toe besluit ek om die volle bedrag van R400 te betaal sodat ek die hoed vroeër sal ontvang,” vertel sy.

Sheldon sê sy het die geld inbetaal en ’n week later het die hoedemaker haar gekontak om te sê die hoed is gereed en klaar geboks, sy moet nou net die geld stuur om dit te koerier.

“Ek het die R180 toe inbetaal en sy het gesê ek sal dit die volgende Maandag ontvang.

“Die Maandag het gekom en gegaan en geen hoed nie.

“Ek het tot die Woensdag gewag en toe kontak gemaak met haar.”

Sheldon sê die hoedemaker het aan haar gesê die hoed is by die plek waarvandaan dit gestuur sal word, en dat sy net op ’n waybill-nommer wag.

“Van daardie dag af het sy net verskonings gehad en my begin ignoreer.

“Ek het boodskappe gestuur, maar sy lees dit en ignoreer my net,” sê sy.

Sheldon sê dit maak haar baie kwaad dat die hoedemaker haar nie wil antwoord nie. “As sy nou vir my gesê het sy het nie materiaal nie, was dit ’n ander storie, maar sy ignoreer my net. As die hoed gereed en in die boks is, dan waar is dit nou?” wil sy weet.

Sheldon sê die ergste van alles is, die hoedemaker is skielik nie meer op Facebook nie, maar sy stuur private boodskappe aan mense om haar hoede te adverteer.

Klaarkry

Die kerksuster sê sy weet ook van iemand wat meer as R1 000 spandeer het en nou nog wag vir haar bestellings.

“Hoeveel mense het sy nie al só ingeloop nie?” vra sy.

Die betrokke hoedemaker, Christene Stevens, sê haar besigheid het ’n dip gevat.

“Ek verduidelik aan die kliënte dat hulle my kans moet gee en ek wil nou kyk teen einde van die maand of Maart om van die bestellings uit te kry. Ons kerke is nog toe, maar ek speel nie op dit nie. Ek wil my werk klaarkry en mense tevrede stel.

“Ek weet ek sal self mal geraak het as ek twee of drie maande vir ’n hoed gewag het, so ek verstaan hoekom kliënte so aangaan,” sê sy.

Stevens voeg by sy vra mooi verskoning.

Sheldon het intussen laat weet Stevens het haar gekontak en tot Maart uitstel gevra. Tot dan sal Sheldon maar moet wag en sien of Stevens inderdaad ’n haas uit ’n hoed sal kan pluk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters