24 dae gelede
Gru-ongeluk eis jong ou
vreeslik: ’n Jong man in sy 20’s is in die ongeluk dood.Foto’s: BASIL DAVIDS  ~ 

BONNIEVALE. – ’n Man van die dorp is dood nadat sy bakkie teen ’n lorrie gebots het.

Die ongeluk het Maandag kort ná 12:00 op die Robertson-Bonnievale-pad gebeur.

Volgens die bestuurder van die lorrie, Boy Lata, was hy onderweg in die rigting van Bonnievale toe die ongeluk gebeur het.

Lata sê daar het ’n Mercedes-Benz voor hom gery.

Volgens Lata het die Mercedes skielik by die Bon Cou­rage-wynlandgoed afgeswaai.

Hy sê dit is toe dat die aankomende bakkie teen die Mercedes gebots het.

Lata sê die volgende oomblik het hy net gesien hoe die bakkie op sy lorrie afpyl en toe met ’n geweldige slag bots.

Vlamme

“Ek het byna by die voorruit uitgevlieg, maar gelukkig kon ek aan die stuurwiel vasklou,” vertel Lata.

Volgens Lata moes hy die bestuurderskant se deur ooptrap om uit die lorrie te klim.

“Ek het toe net vlamme uit die bakkie sien borrel. Die jong man binne-in die bakkie het nog geskree: ‘Help! Help!’ En daarna was hy doodstil,” vertel ’n emosionele Lata.

Volgens Lata het plaaswerkers met brandblussers die vlamme onder bedwang gebring.

Die werkers het toe die bakkie onder die lorrie uitgetrek.

Paramedics het die man op die toneel dood verklaar.

Son verneem die slagoffer was ene Marais wat nog in sy vroeë 20’s was.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters