Verlede maand
Grapjassie se dood ’n skok
Raywin Titus (12  ~  verskaf

KLAPMUTS. – Hy’t nog daarna uitgesien om weer die volgende dag by die skoolhekke in te loop...

Maar God het die hekke van die hemel vir hom opgemaak.

Raywin Titus (12) was ’n dag vermis voordat sy lyk in ’n dam in Klapmuts opgespoor is.

Dié gr. 6-leerder aan die laerskool Klapmuts het Maandagmiddag by ’n dam omtrent 400m weg van sy ouerhuis gaan speel. Hy het ingegly en nooit weer opgekom nie.

Sy gebroke mammie, Rene Titus, vertel gister aan Son die dam waar haar oudste seun Dinsdagaand gevind is, was nie ’n plek waar hy gespeel het nie.

“Kosbaar, lieflik, en ’n grapjas, maar so gehoorsaam,” sê Rene oor die tipe kind wat Raywin was.

“My hart is in stukke. Ek mis hom verskriklik baie.

“Die gemeenskap mis hom vreeslik baie.”

Die agt maande swanger Rene voeg by dat Raywin daarna uitgesien het om sy bababoetie te ontmoet.

“Hy wou net weet wat sy broer se naam gaan wees...” sê sy voordat sy in trane uitbars. Raywin, se antie Mandy Smith, wat gereeld by hom was, stem saam met ma Rene en sê dat sy dood die hele gemeenskap geskok het.

“Almal ken hom, so almal het uitgekom om te help soek.”

Smith onthou die laaste keer dat sy met Raywin gepraat het.

Bekommerd

“Ek het nog oor die ander dam gepraat wat so vol kinders was... en dit was die laaste dat ek hom gesien het.

“Ons het bekommerd geraak toe hy nie teen 19:00 by die huis was nie, want 18:00 is die laatste wat hy inkom. Toe begin ons hom soek.”

Smith sê die kind wat saam met Raywin was, het hulle kom vertel hulle het by die dam gespeel toe Ray­win ingeval het.

“Ek kan dit nie oor my hart kry hoekom hy op daai dag daar gaan speel het nie... Ons wou ook nie aanvaar dat dit sy liggaam was wat gevind is nie omdat hy nooit daar gaan nie. Maar dit was.

“Ek mis hom so baie!”

Raywin sal volgende Vrydag te ruste gelê word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters