Verlede maand
Grafte verniel
Skande: Dooies in dié begraafplaas kry g’n respek nie.Foto: Basil Davids  ~ 

ASHTON. – Vandale mors inwoners se laaste rusplek hier op.

Hulle knip die begraafplaas se drade en steel en skand die grafte.

Volgens Amanda Meyer, ’n gemeenskapsleier, rus bekendes soos die ouers van die Kaapse burgemeester, Dan Plato, ook hier.

Meyer het gesê sy was ’n paar maande uitstedig en toe sy die kerkhof gaan besoek om blomme op haar oom se graf te sit, was sy bitter teleurgesteld.

“Dit is mos die laaste rusplek van onse geliefdes, maar kyk hoe word dit gevandaliseer,” het Meyer baie bekommerd gesê.

Volgens haar het sy toe onmiddellik ’n skrywe aan die Langeberg-munisipaliteit gerig om te hoor wat hulle oor die vandalisme gaan doen.

Meyer het gesê sy het nog geen antwoorde van hulle gekry nie.

Son het die begraafplaas besoek. Daar is glad nie meer ’n omheining nie.

Van die grafte is ook lelik geskend.

Meyer het met trane in haar oë gesê die skuldiges het geen respek vir dooies se laaste rusplek nie.

’n Inwoner wat in die begraafplaas geloop het, het aan Son vertel dis na bewering tikkoppe wat die omheining snags afbreek en steel.

“Die fence is al hoeveel keer vervang, maar dit is skaars ’n week of twee, dan word die drade net weer afgesteel,” het die bekommerde inwoner verduidelik.

Meyer het gesê mense maak nou weens dié situasie ’n deurloopplek van die begraafplaas.

Sy meen die kerkhof moet gerespekteer word.

Gerapporteer

Willy-John Gordon, ’n munisipale woordvoerder, het gesê die munisipaliteit gaan binnekort “begin om die begraafplaas weer op peil te bring”.

Volgens hom gebruik mense die begraafplaas as ’n deurloop en ’n omheining sal weer aangebring word.

Gordon het bygevoeg enige voorvalle van vandalisme moet by 0860 88 1111 gerapporteer word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters