18 dae gelede
Gooi haar met wetboek
erg ontsteld: Denzil de Wee beweer hy is aangerand deur ’n vrou wat by dié biblioteek werk. Foto: Kallie Smit  ~ 

PORTERVILLE. – ’n Man sê hy is bang geregtigheid sal nie geskied nie nadat ’n vrou hom aangerand het.

Denzil de Wee (37) vertel hy leef in vrees nadat hy Florencia Ghosa, ’n assistent by die Bettie Ju­lius ­Biblioteek, by haar werk én die polisie verkla het.

Ghosa (30) se man dreig hom glo met die dood.

De Wee vertel: “Sy (Ghosa) het op 22 Augustus buite die biblioteek met ’n vriendin gesit en gesels. Met die verbygaan sê ek toe vir haar haar man lyk darem sexy.

Brand

“Toe klap sy my ’n paar keer en rand my met ’n besem aan. Haar man wou my later omkoop om die saak terug te trek.”

Ghosa het op 17 September in die hof verskyn. Die saak is tydelik teruggetrek.

“Ek loop dieselfde dag haar man raak. Hy sê toe vir my hy gaan my vol petrol gooi en aan die brand steek en ek sal sien wat gebeur as sy vrou haar werk verloor.

“Ek het toe by die polisie ook teen hom ’n saak gaan maak.

“Ek lewe nou in vrees en kan nie waag om op straat te loop nie. Hulle bly in dieselfde straat as ek.”

Ghosa het ontwykend op Son se vrae geantwoord. Sy wou aanvanklik nie praat nie, maar het later gesê: “Denzil praat verskillende stories.

“Sy vriende het kom vertel hy wil hê ek moet hom R1 000 aanbied, wat ek nie het nie, dan los hy seker nou hierdie goeters.

“Ek is nou by die huis, want die werk is besig met ‘n ondersoek.”

De Wee sê die bewering dat hy Ghosa afpers, is twak.

Die saak teen Ghosa is intussen weer op die hofrol geplaas. Sy moet in Oktober weer in die hof verskyn.

“Ek hoop geregtigheid sal geskied sodat vroue kan besef hulle kan nie net mans aanrand en dan niks oorkom nie,” sê De Wee.

Lt.kol. Andrè Traut, ’n woordvoerder van die polisie, het bevestig die polisie ondersoek ook ’n klag van aanranding teen Ghosa se man.

Adv. Hanlie Linde, munisipale bestuurder by die Bergrivier-munisipaliteit, sê Ghosa is geskors nadat ’n verhoor op 27 Augustus gehou is.

’n Dissiplinêre proses is op 16 September begin. Dis nog nie afgehandel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters