11 dae gelede
Godsman se lyk gevind
Hartseer: Past. Frans Landsman vermoed sy kleinseun is gewurg en met ’n panga doodgekap.  ~ Basil Davids

ASHTON. – ’n Man wat elke dag met sy Bybel onder die blad geloop het, is dood aangetref.

Die lyk van Francois Ambrose (28), kleinseun van pastoor Frans Landsman, is Sondagoggend in ’n dam gevind.

Landsman sê hy was nog Sondagoggend besig om vir sy gemeente te preek toe hy op sy selfoon – wat op silent was – sien iemand soek hom.

“Ek het die diens vir ’n wyle gestop, want ek het sommer geweet dit was dringend,” het Landsman­ gesê.

Dit was toe een van sy gemeentelede wat vir hom die tyding gegee het dat sy kleinseun se lyk in die dam gevind is.

“Ek het my gemeente gevra om my te verskoon, en toe onmiddellik na die dam gery,” vertel ’n emosionele Landsman.

Die pastoor sê toe hy by die dam kom, was daar ’n klomp mense en daar was ook polisie-vêns op die toneel.

Gekuier

“Ek het hom sommer dadelik aan sy afro uitgeken,” vertel Landsman.

Sy vrou, Rosie, sê Francois het nog twee weke gelede vir die naweek by hulle gekuier.

“Hy het die Sondag saam met sy oupa terug huis toe gery,” sê Rosie terwyl die trane oor haar wange rol.

Francois het volgens sy familie vir die naweek by vriende op ’n nabygeleë plaas gekuier.

Sloot

Hy het die Saterdagaand nie terug huis toe gekom nie en sy familie het bekommerd geraak.

Volgens Landsman het hy ook ’n diep sloot op Francois se voorkop gesien wat vir hom soos ’n panga-hou gelyk het.

Landsman voeg by: “Daar was ook ’n rooi merk aan sy nek; asof iemand hom met ’n tou gewurg het.”

Die familie soek nou antwoorde en sê Francois was ’n liefdevolle mens wat nie eens ’n vlieg sou leed aandoen nie.

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, sê die slagoffer se oorskot is deur verbygangers in die dam gevind.

Volgens Swartbooi word die omstandighede rondom Swartbooi se dood tans deur die polisie ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters