3 maande gelede
Ghwarre soek goud by graf
soektog: Kwajongens het diep gegrawe om by die “skat” uit te kom.Foto: basil davids  ~ 

ROBERTSON. – Booswigte het ’n Joodse graf opgegrawe oor hulle gedink het dit is ’n “goudmyn”.

Die skurke het ’n gat van sowat 3 m om die grafsteen gegrawe. Dit is duidelik hulle wou by die kis uitkom.

Die skade is verlede naweek aangerig nadat gerugte begin rondloop het dat sekere Jode doerie jare hulle geliefdes se besittings by hulle in die graf begrawe het – onder meer goud en Kruger­rande.

Mense wat die afgelope week uit nuuskierigheid na die graf gegaan het, spot die ouens was heel waarskynlik agter “die groot vonds” in die kis aan.

Benjamin Koert, ’n plaaswerker, sê hy het Dinsdag gesien hoe ’n polisie-vên by die kerkhof stilhou.

“Ek het later, toe die vên wegtrek, uit nuuskierigheid nader geloop om te kyk wat aangaan. Toe sien ek iemand het die graf oopgegrawe.”

Van die werkers by die begraafplaas het aan Son gesê toe hulle Maandag vir diens aanmeld, het hulle die oop graf ontdek.

Die werkers sê hulle weet nie vir watter rede mense sulke dinge aanvang nie.

Hulle staan omtrent met die hande in die hare en wonder wat die motief hiervoor kan wees.

Die werkers het uit hulle keelgat gelag oor die goudmyn-skinnerstories.

Son verneem op die dorp is geen familie meer van die persoon wat in die betrokke graf begrawe is nie. Almal het reeds gesterf.

Stuart Serwator, streekrabbi van die Kaaplandse plaaslike Joodse sinagoges van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes, sê dit is onmoontlik dat goud of wapens in die graf saam met die geliefdes begrawe is.

“Ons begrawe ons mense nie so nie,” beklemtoon Serwator.

Hy sê die vandale kon enige ander begraafplaas geteiken het, maar in dié geval het die Joodse begraafplaas deurgeloop.

Volgens hom is dit die eerste keer dat so iets daar plaasvind.

“Ek het reeds ’n saak by die polisie gemaak.”

Son het onlangs berig oor vermeende tikkoppe wat ook die begraafplaas net langsaan geteiken het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters