12 dae gelede
Getuie: Dooie spook in hof
HARTSEER: Memori Nhambirwa het getuig hoe die vermeende moordenaar haar vriendin Grace Hondo van ’n werkgeleentheid by ’n lodge vertel het.  ~ Basil Davids

SWELLENDAM. – ’n Getuie het gister geglo een van die vermeende reeksmoordenaar Brian Mudyiwayana (34) se slagoffers het by haar in die beskuldigdebank kom spook.

Memori Nhambirwa was aan die getuig oor Grace Hondo (27), ’n Zimbabwiese slagoffer, toe Mornay Julius, die staatsaanklaer, haar vra of sy dalk nog Hondo se selfoonnommer kan onthou toe sy haar probeer bel het.

Nhambirwa het nog diep gedink en skielik het haar foon in haar handsak gelui.

Nhambirwa het grootoog na die handsak gekyk, haar selfoon uitgehaal en dit afgeskakel.

In die teepouse het Nhambirwa aan Son gesê sy voel Hondo wou vir haar met die selfoon se gelui sê hoe Mudyiwayana haar wreed om die lewe gebring het.

Nhambirwa sê sy het Hondo baie goed geken. “Sy was ’n gereelde klant by my haar­salon in Worcester.”

Volgens haar het Mudyiwayana op 7 Julie 2016 ook sy hare by haar salon laat sny terwyl sy besig was om Hondo se hare te doen.

Lodge

Nhambirwa sê terwyl sy met Hondo se hare besig was, het Mudyiwayana met hulle ’n geselsie aangeknoop.

“Ek onthou nog hy het Grace gevra of sy dalk werk soek, want hy soek mense om by ’n lodge in Swellendam te gaan werk,” het Nhambirwa vertel.

Volgens Nhambirwa het Hondo sommer net daar in die salon ingestem om saam met hom na Swellendam te travel en sy aanvaar ook toe die job.

Nhambirwa sê Hondo het goodbye gesê nadat sy haar hare klaar gedoen het.

“Dit was ook die laaste keer dat ek vir Grace gesien het,” het Nhambirwa hartseer gesê.

Sy het Hondo toe later die aand op haar selfoon gebel. Hondo het geantwoord dat hulle nog nie in Swellendam aangekom het nie.

Nhambirwa sê toe sy Hondo die volgende dag bel, was haar selfoon op voicemail.

“Ek het dae vergeefs geprobeer om haar in die hande te kry, maar maande het verbygegaan en ek het gedink dat sy gelukkig en veilig in haar job is,” het Nhambirwa gesê.

Ná ’n jaar het sy verneem van menslike beendere wat gevind is. Sy het toe ook verneem dis Hondo se oorskot

“Ek was baie hartseer en het sommer geweet hy, die beskuldigde daar in die bank, was vir Grace se dood verantwoordelik,” het Nhambirwa met trane in haar oë gesê.

Mudyiwayana het toe sy hand opgesteek en wou iets sê.

Hy het teenoor Nhambirwa erken hy is vir Hondo se dood verantwoordelik en hy het haar innig om verskoning gevra.

Nhambirwa het vir Mudyiwayana gesê hy moet net sê waarom hy haar doodgemaak het. Die hof het Mudyiwayana egter meegedeel hy mag nog nie in hierdie sta­dium verduidelik waarom hy die moorde gepleeg het nie.

Gedurig

Bokang Chari en Blessing Okonya, twee susters wat vriendinne van Hondo was, het ook getuig hoe hulle haar kort ná haar verdwyning probeer bel het, maar haar selfoon was gedurig op voicemail.

Dié opspraakwekkende hofsaak duur vandag voort.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters