27 dae gelede
Gesinne op plaas ‘geboelie’
BANG: Anneline Williams sê daar is op hulle geskiet.  ~ Foto Verskaf

’N UITSETTINGS­BEVEL is dié week op die plaas Haaskraal buite Wellington onder die toesig van ’n klomp gewapende wagte op agt gesinne bestel.

Dit kom te midde van boelietaktiek om hulle van die plaas te verwyder, sê Anneline Williams (43), ’n ma van drie kinders.

Williams is een van die inwoners wat voor die hof gedaag is.

“Twee weke gelede (op 5 Desember) was ek in die Kaap om shopping te doen.

“Toe ek by die huis kom, het my kinders my vertel dat die sekuriteitswagte daar was en vir hulle gesê het om hul musiek af te sit. Ek het eers niks daarvan gemaak nie.”

Gehuil

Volgens Williams het die wagte later die aand teruggekom. “Daar was ’n helse geraas en ek het uitgehardloop om te gaan kyk wat aangaan.”

Sy sê die wagte het met ligte op die huisies geskyn, klippe na hulle gegooi en rubberkoeëls gevuur.

“Ek het agter die hok platgeval. Nog ’n kind het langs my kom neerval.

“Die kinders het uit vrees geskreeu en gehuil.”

Volgens Williams het sy voorheen haar ander drie kinders in ’n verwoestende brand verloor. Sy het die brand oorleef.

“Ek was self in die brand, maar het dit survive. Toe die wagte hier kom skiet, het ek gevrees dat ek nou weer my kinders gaan verloor of hulle vir my.”

Williams het dieselfde aand ’n saak by die polisie aanhangig gemaak.

Balju

“Toe ek my baas kontak, is ek ingelig dat hulle nie op die plaas is nie.”

Dae later het die balju opgedaag met dokumente wat die gesinne voor die hof daag.

“By die dokumente is ’n polisieverslag van een van die wagte wat beweer die inwoners het hom op 5 Desember in die nek gesteek.”

Die plaas se eienaars het nie op Son se oproepe en SMS’e gereageer nie.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig hulle ondersoek twee afsonderlike klagte: “Ons ondersoek ’n saak van poging tot moord en nóg een van poging tot moord.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters