3 maande gelede
Gesin ‘sit op eiland’ oor te vol rivier
skade: Dié kar staan ook in die vloedwater.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE water het Lateefha Papier en haar gesin in hulle houthuis op ’n “klein eiland” as gyselaar gehou.

Papier-hulle het sowat nege maande gelede van Mitchells Plain na Gouda verhuis.

Hulle het ’n plot gekoop en ’n pragtige houthuis gebou. Dit het ’n uitsig van ongeveer 100 m van die Bergrivier en ’n kanaal van die Klein-Bergrivier, wat in Nuwekloof by Tulbagh ontstaan.

Verlede week met die groot reën het die Klein-Bergrivier sy walle oorstroom. Dit het ook gemaak dat hulle vasgekeer was.

Papier vertel: “Die huis het niks oorgekom nie, maar die voertuie was half onder water.”

Sy het ’n raadslid gebel, maar dié het gesê sy moet Drakenstein-munisipaliteit se rampbestuur bel.

Gegrawe

Papier het so gemaak. Volgens haar het hulle haar krisisbeheer se nommer gegee, maar dié het nie eens teruggebel nie.

Die gesin het toe maar met graaf en pik slote om hulle huis gegrawe. Dit voel vir hulle of niemand daarin belang stel om hulle te help nie.

“Ons is Moslems. Dis teen ons geloof om iemand in nood te sien. Ons help ons medemens, want Allah sê dit in die Koran.”

Samuel Joubert (63) van Gouda het 36 diensjare by waterwese. Hy sê as dit baie hard reën, oorstroom die Klein-Bergrivier altyd sy walle.

Riana Geldenhuys, ’n mediawoordvoerder van die Drakenstein-munisipaliteit, sê Papier moes krisisbestuur gebel het. Mense in nood kan 080 131 3553 bel. As jou lewe in gevaar is, bel 021 872 2323.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters