13 dae gelede
Gesin ly erge verlies in huisbrand
MOEILIK: Maria van Rooyen, Petrus Barends en hulle kids is in die nood.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Hulle het hulle huis, kar en ál hulle besittings in ’n brand verloor.

Petrus Barends, sy vrou, Maria van Rooyen, en hulle vyf kinders bly nou by buurmense nadat hulle huis en kar Dinsdagaand voor hulle oë uitbrand het.

Barends sê gelukkig was niemand in daai stadium in die huis nie.

“Ek was nog by die werk en my vrou en kinders was by die buurmense toe mense skree dat die huis en die kar onder vlamme is,” vertel Barends.

Volgens Barends het omstanders alles in hulle vermoë gedoen om die vlamme te blus en meubels uit die huis te dra.

Alles was vergeefs en die gesin het als verloor. Hulle het net die klere aan hulle lywe oor.

Aangeskaf

’n Bedroefde Van Rooyen sê sy het baie geld gespaar vir haar kids se skoolklere, asook hulle skoolboeke.

Dit het egter alles in die slag gebly.

“Ons weet nie wat ons nou gaan doen nie. Ons moet weer van vooraf begin,” sê die ma hartseer.

Sy kry haar man ook bitter jammer, want hy het maar onlangs die wiele vir hom aangeskaf.

Nou wonder die gesin steeds wat die oorsaak van die brand was.

“Mense bespiegel dat dit moontlik brandstigting kon wees, en ander sê weer die brand het agter die huis ontstaan waar daar droë onkruid staan,” vertel die couple.

Barends sê die polisie was by hulle en hulle ondersoek die saak.

Sonlanders wat na die gesin wil uitreik om te help, kan Barends gerus bel by 072 748 9533.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters