6 dae gelede
Gesin kry huis ná brand alles vat

ROBERTSON. – ’n Vrou wat onlangs alles in ’n brand verloor het, het ’n splinternuwe wendyhuis gekry.

Son het sowat twee weke gelede berig oor Avril September (44), wat haar huis met ál haar klere en meubels in ’n brand verloor het.

Sy en haar drie minderjarige kinders het ná die tragedie huisvesting by mense gekry.

September was die afgelope week salig onbewus van die groot verrassing wat op haar wag.

Hulp het ingestroom en sy het kos, klere, beddegoed, en selfs ’n flatscreen TV van verskillende mense vanuit ander dorpe en selfs uit haar eie gemeenskap gekry.

Donderdag nadat die wendyhuis opgerig is, het die weldoeners September geblinddoek en na haar nuwe huis geneem.

Toe die blinddoek van haar oë afgehaal word, kon September haar oë nie glo nie.

Sy het sommer daar uitgebars in trane van blydskap en kon skaars ’n woord uitkry.

“Ek is baie dankbaar vir wat almal vir my en die kinders gedoen het,” het ’n emosio­nele September gesê.

Knop

September voeg by sy het geweet dat sy dié Kersfees nie op moedverloor se vlakte gaan sit nie.

“God het my en my kinders se gebede gehoor,” sê September en sluk swaar aan die knop in haar keel.

Volgens haar sal sy haar wendyhuis baie mooi oppas en sy sal veilig bly sodat haar woning nie weer deur ’n brand verwoes word nie.

“Ek wil vir almal dankie sê wat alles vir ons gesin moontlik gemaak het,” voeg September by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters