Verlede maand
Geraas op die plaas
EIENAAR: Magrieta Conradie sê sy het die families kennis gegee om die plaas te verlaat.  ~ Jonathan Lestrade

PAARL. – “Ons geld is nie vuil nie.”

Só sê Chantel Willemse (26), wat op die plaas Bloemenprag in dié distrik woon.

Willemse, haar 11 maande oue babadogter, Shaylin, en haar kêrel, Brandon Diedericks (26), woon sedert 2008 in ’n huis en betaal getrou hul huurgeld.

Sy beweer die eienaar van die plaas het nou skielik ’n probleem met hulle.

“Sy weier om ons geld te vat en sê dis vuil. Sy weier om ons ’n rede te gee en het sowat ’n jaar gelede ons krag en water gesny in ’n poging om ons van die plaas af te kry.”

Willemse sê sy weier om sonder rede van die plaas af te trek.

“Ek weet wat my regte is en gaan nie toelaat dat ek van die plaas afgegooi word nie. Om waarnatoe te gaan?” vra sy.

Willemse sê sedert Februarie 2008 betaal hulle nog elke maand R800 in rent.

“Die probleem het begin toe ek in 2019 vir my suster ’n baby shower gehou het.

“Dis toe dat sy met haar nonsens begin het dat ons nie paarties mag hou nie en ons mag nie mense hier kry nie. Ons het tot in Desembermaand nog krag gehad.

“Toe ons weer krag wou koop by haar, toe weier sy om ons huurgeld en kraggeld te aanvaar.

“Sy sê ons moet die huis leegmaak. Sy wil nie ’n rede gee nie. Sy het toe in Maart laas jaar mense laat kom om die krag af te sny.

“Ek het al probeer om die huurgeld aan haar betaal, maar sy sê net sy wil nie ons geld hê nie omdat dit vuil is en ons moet gaan,” vertel Willemse.

Onmenslik

Willemse sê ’n briefie het die rondes begin doen wat lui dis ’n kennisgewing dat hulle die plaas binne ’n maand moet verlaat.

“Sy het nie eens die briefie tot by my gebring nie. Sy het dit vir ander mense gegee en vir hulle gesê om dit vir my te wys.

“Ons gaan dit nie net so los nie. Dis onmenslik om sonder water en krag te woon. Ek het ’n kind om groot te maak en dis nie lekker om só te lewe nie.”

Alvina Abrahams, ’n gemeenskapsleier van Paarl, sê daar is baie sulke gevalle.

“As die plaasboere van jou ontslae wil raak, is die eerste ding wat hulle doen om jou menseregte te skend deur jou water en krag weg te neem. Dit laat ’n mens minderwaardig voel en dan besluit jy om te trek.

“Dit is op daardie oomblik dat jy nie weet van ’n wet wat jou beskerm as ’n plaaswerker of huurder nie. Mense hoef nie net op te pak as plaasboere hul lewe vir hulle moeilik maak nie.

“Jy is geregtig op water en as jy vir jou krag betaal, dan is jy geregtig op jou krag.”

  • Magrieta Conradie, die eienaar van die plaas, het bevestig dat sy op 20 Augustus 2019 vir die mense in die huise kennisgewing gegee het om die perseel teen 31 Augustus te verlaat. Volgens haar het drie ander gesinne wat in die huise gewoon het, die huise verlaat. Sy bevestig dat Willemse en haar kêrel steeds daar woon.

“Hy was ’n bitter ordentlike man toe hy daar ingetrek het en het die huur van R800 en R120 vir die krag maandeliks betaal,” bevestig Conradie.

Maar volgens Conradie het hulle familielede ingebring en ’n “hele konkoksie gevorm.

“Ons kon op ’n naweek nie hier leef nie, so het hulle musiek gemaak en ons uit ons plekke uit geraas. Ons kon dit net nie meer hou nie,” sê sy.

Conradie sê nadat sy die kennisgewing aan hulle gegee het, het sy toe besef dat die kragmeter steeds loop en hulle koop nie meer krag nie. En dis waarom sy die krag laat afsit het.

“Ek het ook besluit om die krag af te sit omdat ek nie meer daar met my beeste boer nie.

“Omdat daar nie meer krag is nie, kan die waterpomp ook nie werk nie. Dis waarom daar nie water is nie,” sê sy.

Conradie verduidelik sy het hulle ingelig dat sy die krag gaan sny omdat sy nie meer gebruik maak daarvan nie en omdat hulle nie meer krag koop nie, maar die meter loop aan. Volgens haar was daar ook fout met die eiendomme.

“Nadat ek vir hulle die kennisgewing gegee het, het hulle nie weer huur betaal nie. Daar het baie ander dinge gebeur, maar ek wil dit nie noem nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters