Verlede maand
Gemors laat mense moerig
Goor voor: Dié stroom rioolwater maak inwoners boos én naar.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Inwoners van die Valentynskamp wil moer slaan oor ’n morsige rioolrivier wat voor hul ma­tjoks verbyloop.

En was Jan Blaauw nie so wake-up nie, kon hul shacks oorstroom gewees het.

Blaauw vertel: “Ek moes in die nag opstaan om ’n walletjie te gooi sodat die kakwater verby die hokkies loop. Dis nou al ’n klein riviertjie. Kyk daar!”

Petronella Wagenaar kla: “Daai vrou se kind het al byna in die stront geval. Sy moet daai kind elke dag twee keer aantrek, want die klôgoed speel gereeld in daai gemors.”

Beneuk

Die rioolrivier vloei van 8ste Laan af deur inwoners se Hop-huise en stort dan vlak voor die plakkershutte uit. Intussen raak die vloei van riool ál hoe erger en inwoners raak ál meer beneuk.

Ene Anna kla: “Dink jy ’n mens kan met só ’n gemorsreuk in jou neus­gate kos kook?

“Waarom doen die munisipaliteit nie iets hieraan nie? Of is dit omdat ons maar net in hokke bly? Of is dit omdat ons arm mense is?”

Reggie Timmie, kantoorhoof van die Kannaland-munisipaliteit, het aan Son gesê: “Ons was nie bewus van dié probleem met riool in die Valentynskamp nie, maar ons sal nou ’n span soontoe stuur.”

Later het hy weer ’n voice note gestuur waarin hy bevestig dat die probleem aangespreek en opgelos is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters