2 maande gelede
Gemeenskap neem afskeid van couple
francois
Laaste reis: Die oorskot van Francois en Nazzaley van der Ross op pad na hul laaste rusplek.  ~ _kallie smit

SARON. – Die gemeenskap het Vrydag swaar afskeid geneem van twee van die drie slagoffers wat Saterdag 26 Junie in ’n ongeluk omgekom het.

Francois (37) en Nazzaley van der Ross (32) is saam begrawe. Die couple het gesterf toe hul motor ná die botsing in vlamme uitgebars het. Nazzaley was sewe maande swanger.

Hul dogtertjie, Vanja (8), het die ongeluk oorleef danksy vier heldhaftige mans wat haar betyds uit die brandende motor gered het. Hulle kon egter niks vir haar ouers doen nie.

Vanja sterk tans tuis aan nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Sy kon haar ouers se begrafnis bywoon.

Die derde slagoffer, Marcelino Green (35), is die vorige Saterdag begrawe.

Son het vroeër oor die gru-ongeluk berig wat die gemeenskap in rou gedompel het.

francois
Bekende egpaar: Francois en Nazzaley van der Ross op hul troudag.

Die ongeluk het omstreeks 06:30 op ’n nat pad op die R44 tussen Saron en Gouda gebeur. Die twee voertuie het mekaar trompop getref.

Green was op pad huis toe van sy werk in Tulbagh en Francois was op pad na sy werk in die Paarl. Francois se vrou en kind was saam om inkopies te doen.

’n Kollega van Marcelino, wat daagliks saam met hom werk toe gereis het, het verslae vertel dat hy ook dié oggend in die kar moes gewees het, maar omdat Marcelino laat moes werk, het hy met ’n ander geleentheid teruggekeer huis toe.

Die drie slagoffers het almal in Saron gewoon en is almal vanuit die Calvyn Protestantse Kerk begrawe.

Die begrafnisse het ongekende belangstelling uitgelok.

Baie mense wat Green se begrafnis bygewoon het, moes die reënweer­ trotseer omdat toegang tot die kerk as gevolg van die Covid-19-regulasies beperk was.

Al drie slagoffers was baie bekend en gelief in die gemeenskap.

Francois, oorspronklik van Wellington, se familie vertel dat hy ’n stil en lieflike mens was. Hulle sê was baie bekend in sy geboortedorp en die Paarl.

Nazzaley en Francois het uitgesien na die geboorte van hul tweede kind.

Die babakamer staan nog met alles wat die baba nodig sou kry, netjies op hul plek vir die nuweling wat nie meer sal opdaag nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters