3 dae gelede
‘Geeste’ rumoer
TREK UIT: Clint May sê hy hoor ook van die spokery en voeg by die huis is ’n groot problem.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Dit spook glo in ’n Hop-huisie in dié dorp.

Dít is die storie wat op talle mense se lippe is.

Dié huisie is destyds net ná apartheid een van die eerstes wat gebou is.

Dit is vandag vervalle en die huismense het getrek.

Volgens mense wat naby die huisie woon, was daar oor die dekades al baie huisgesinne wat gekom en gegaan het.

’n Inwoner sê met groot oë dat hier ook al baie lyke uit die huisie gedra is.

“Mense sê dit spook verskriklik by daai huisie,” het die ou hom sommer vinnig uit die kol gevat.

Manie Bostander sê hy het ook al gehoor dat daar veral Sondae in die nag stemme uit daai huis kom.

“Ek hoor ook maar net dat dit mense is wat in daai huis baklei.

“Dan hoor hulle ’n klomp bottels wat val en kindertjies wat aanhoudend huil,” vertel Bostander.

By Son se besoek het nóg ’n paar mense nader gestaan, maar hulle wou net uit nuuskierigheid weet wat aangaan.

GEVAARLIK? Twee outjies staar na die “spookhuisie”.

Hulle weet nie van die spokery nie, maar ’n antie het gesê dit is waar.

“My klong, kom ek sê vir jou – dis die waarheid. Dit spook daar. Ek het al met my eie ore gehoor,” het die antie gesê.

Sondagaand het Son self weer by die woning ’n draai gaan maak. Dit was so om en by 23:00.

Teen middernag was daar nog geen teken van ’n spook nie.

Toe Son kort daarna wegry, kon ’n mens duidelik hoor hoe ’n ruit of iets uit gegooi word.

So, dit kon ’n spook gewees het – of dalk iemand wat net die gek geskeer het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters