14 dae gelede
Geen riches: inwoners smag na hul eie huise
Ver van ryk: Rich Man’s Town se mense soek nou huise.  ~ _basil davids

ROBERTSON. – Rich Man’s Town se mense krepeer van ellende en hul harte brand vir ordentlike huise.

Die meer as 50 gesinne wat hulle destyds op ’n koppie buite die dorp kom vestig het, sê hulle kan nie langer in plank- of sinkhuise bly nie.

Elke dag kom hier net meer mense in die area plak, veral jong mense.

Die Langeberg-munisipaliteit het vir die mense slegs een kraan aangebring –en dié lek nog boonop.

Die inwoners sê hulle het die grond self vir die oprigting van hul shacks bewerk, maar hulle soek steenhuise.

Lena Galant, een van die eerste inwoners, sê so twee jaar gelede het mense sommer self besluit om daai stuk grond te gaan bewoon.

Werkloos

“Ons het ’n groot gebrek aan huise en die meeste van ons is op ’n waglys geplaas, maar steeds weet ons glad nie wanneer die munisipaliteit vir ons mense Hop-huise gaan bou nie,” sê sy.

Nog ’n inwoner, Mark Stofberg, sê die meeste van die mense hier is werkloos.

Hulle skarrel nog elke dag net om ’n stukkie brood op hul gesin te tafels te sit.

“Julle moet kom sien hoe dit in dié huishoudings gaan.

“Mense kry bitter swaar,” vertel ’n ontstelde Stofberg.

Inwoners van Rich Man’s Town eis nou huise, ordentlike toilette en straatligte.

Danny September, ’n voormalige raadslid, het aan Son gesê die munisipaliteit het ’n begroting om huise vir die mense te bou.

’n Munisipale woordvoerder, Willy-John Gordon, sê hulle het geen vaste datum vir wanneer Hop-huise weer in die omgewing gebou gaan word nie.

Afhanklik

Gordon verduidelik daar is ’n moontlike behuisingsprojek vir Robertson Hoogte wat uit 188 wooneenhede sal bestaan.

Hy sê hulle is egter afhanklik van die Wes-Kaapse departement van behuising vir befondsing hiervoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters