15 dae gelede
Geduld is op
WAT VAN ONS? Oppiekoppie se mense sê hulle sit al vir meer as 20 jaar sonder water en krag.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Leë beloftes.

Só verwys inwoners na elke jaar se beloftes oor huise.

Meer as 200 inwoners van die Oppiekoppie-plakkerskamp het Maandag die strate ingevaar om te betoog oor die gebrek aan ordentlike behuising. Hulle sê hul geduld is nou op.

Die Oppiekoppie-inwoners sê hulle word nou al vir meer as 20 jaar aan ’n behuisingslyntjie gehou.

Hulle is nou moeg daarvan om in wind en weer hul number one en two buite te gaan doen, het hulle gekla toe daar opgeruk is na die plaaslike munisipale kantore.

Hulle het die nuutaangestelde burgemeester, Schalk van Eeden, oor ’n luidspreker geroep.

Hulle wou net ’n memorandum aan hom oorhandig en dan moes hy hulle toespreek. Van Eeden het egter nie respond nie.

Die luidspreker se volume is later op sy hardste gedraai. Mense in die gebou het gesê hul ore kon dit nie hou nie.

Ná ’n ruk het Pauline Hess, die speaker, uiteindelik die mense kom toespreek en mooi beloof dat daar aan hul griewe aandag gegee gaan word.

Kort daarna het die betogers voor die gebou verdaag.

John Roelofse, ’n woordvoerder van die groep, sê mense moet ná jare steeds soos honde in hokke leef.

Pleit

“Tot op hierdie uur toe het ons nie lopende water of elektrisiteit nie.”

Nog ’n inwoner, Katriena Fluks, vertel dat sy een van die eerste bewoners van Oppiekoppie is.

“Ek kom gooi ook my gewig in, want ons pleit al vir jare vir water en toilette.”

Volgens Riaan de Jong, Van Eeden se PA, sal hulle binne ’n maand terugvoer aan die inwoners gee.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters