Verlede maand
Gedoente met die groente is ’n pyn
MISOES: Basil America het sy groente verloor.  ~ Basil Davids

MONTAGU. – Hy wou arm mense in die tyd van die corona-virus met groente voed, maar toe word sy groente “uit die tuin getrek en weggesmyt”.

Basil America is gebroke en sê dit wat Izak Havenga aan hom gedoen het, is onaanvaarbaar.

America het Maandag baie emosioneel vertel hy’t besluit om in die pandemie-tyd groente te plant en dan aan mense uit te deel wat dit broodnodig het.

Betaal

Maar dinge het toe vir America anders uitgewerk.

America sê hy het ’n groot stuk grond by Havenga gehuur.

Hy moes Havenga maandeliks R250 vir die huur van die grond betaal.

America vertel toe hy verlede week wou gaan oes, was ál die groente uit die tuin getrek. Hy het toe verneem Havenga het die groente gaan weggooi.

“Vrydagmiddag het hy en sy seun net ’n paar van die groentes sommer hier voor my deur kom neergooi, in hul kar geklim en weggery,” vertel ’n erg ontstelde America.

Volgens America het Havenga gesê hy gaan nie meer die stuk grond aan hom verhuur nie.

“Ek het sewe mense werk gegee wat toe kos op hul gesin se tafels kon sit en nou is daai mense ook werkloos,” sê America.

Dié groenteboer sê hy weet glad nie wat die rede is dat Havenga so opgetree het nie.

“Ek dink toe ek die eerste keer begin oes het, het hy seker maar begin jaloers word en gedink ek gaan baie geld uit my groente maak,” bespiegel hy.

Volgens America was die doel juis om arm mense te voed, maar dit het toe nie so uitgewerk soos hy beplan het nie.

America sê ál sy werkers en hyself het hard gewerk om die groente te plant en daar het nou niks van gekom nie.

Havenga sê op sy beurt America het die groente self geoes en in die tuin gelos.

“Ek het aan Basil gesê om die groente te kom haal en die ander groente te kom oes, maar hy het toe nie so gemaak nie,” verduidelik Havenga.

VERSKONING: Izak Havenga (links) sê die inwoners was bekommerd dat die droë oes ’n brandgevaar inhou. Langs hom is Eric, sy seun. Foto: Basil Davids

Havenga voeg by die mielies het al begin uitdroog en dit het ’n groot brandgevaar ingehou.

Vlamvat

Volgens Havenga het sy bure ook al begin kla, want hulle woon in rietdakhuise.

“Daardie mense was bevrees dat die droë blare sou vlamvat en hul huise dan kon afbrand,” sê Havenga ernstig.

Volgens hom het hy ook nooit die groente gaan weggooi nie.

“Ek het die groente voor sy huis gaan neersit en hom baie mooi gevra om die res van die groente te kom oes.

“Basil het nie weer na sy tuin gekom nie,” verduidelik Havenga.

Volgens America gaan hy nou ’n saak by die polisie aanhangig maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters