3 maande gelede
Geblokte krag nou weer aan
lank wag: Inwoners staan Vrydag in ’n tou buite die Drakenstein Munisipaliteit se gebou.Foto’s: jonathan lestrade  ~ 

DIE Drakenstein Munisipaliteit was genoop om meer as 8 000 inwoners se kragrekeninge weer te aktiveer om corona-virus-infeksies te verhoed.

Die munisipaliteit het vroeër vandeesmaand 8 352 mense se krag geblok oor hulle rekeninge agterstallig was.

Moerige inwoners het sedert 9 Maart by die munisipale geboue in die Paarlse middestad in lang toue gestaan om hieroor te kla.

Hulle wou weet hoekom hulle kragrekeninge geblok is.

Leonie Jonkers, ’n inwoner, sê hoewel haar kragrekening nie gedeaktiveer is nie, word 90% van die bedrag afgetrek. Jonkers het vir Son ’n krag slip gewys waar sy 4 units vir R40 gekry het.

Sy was Vrydag een van die mense wat in die lang tou buite die munisipale geboue gestaan het om navraag te doen hieroor.

John Abrahams van Hillside sê sy probleem het Donderdag begin toe ’n munisipale werker versuim het om sy watermeter-lesing neer te skryf.

Volgens hom het die werknemer net buite sy erf gestaan. Sonder om in te gaan en na die lesing te kyk, het hy ’n syfer in sy boekie neergeskryf.

Abrahams sê: “Hy skat dit mos, maar ek was daar en die hek was oop vir hom om in te gaan en na die lesing te kyk.

“Sedert daai man daar was, is my krag af.

Ek moes nou ’n taxi vat hiernatoe om te vra wat aangaan.”

Jerome Fredericks, ’n aktivis van die Concerned Drakenstein Residents, sê die munisipaliteit is baie onredelik met die manier hoe die aangeleentheid gehanteer is.

Verander

Fredericks sê: “Ons sê nie mense moenie hulle rekening betaal nie. Dit sal baie onverantwoordelik wees om só iets te sê.

“Maar al wat ons sê, is die probleem het begin toe die munisipaliteit sy deernisbeleid verander het sonder om die publiek te raadpleeg.

“Die nuwe deernisbeleid is nie aan die mense verduidelik nie.

“Die meeste mense weet ook nie hoe werk hulle rekeningstelsels nie – dis ook verander sonder om die publiek te raadpleeg.”

Die munisipaliteit sê in ’n verklaring hy het besluit om die meer as 8 000 inwoners se rekeninge weer te aktiveer.

Die statement lui: “In die gees waarin die beroep deur pres. Cyril Ramaphosa gedoen is om die risiko van Covid-19-infeksies te verminder, is dié besluit geneem.

“Inwoners wat in toue gestaan het, is tot die einde van Maart kans gegee om hulle agterstallige rekening te betaal of reëlings daarvoor te tref.”

Die 8 352 inwoners wat minder as R2 000 skuld, se rekeninge is laat Vrydag toe weer geaktiveer. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters