2 maande gelede
Gatta gegryp vir korrupsie
VAS: Die betrokke cop is in ’n klopjag gearresteer.  ~ Grafika ter illustrasie: Tyrone Appolis

DIE voormalige hoof van Wolseley se drug squad en eenheid teen georganiseerde misdaad is vir korrupsie aangekeer.

Die senior cop, ’n 46-jarige sersant wat al 16 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is, is Donderdag in ’n klopjag by een van sy huise in Happy Valley gearresteer.

Hy’t Vrydag in die Wolseley-landdroshof op aanklagte van bedrog en korrupsie verskyn en is op borgtog van R4 000 vrygelaat.

Die Valke is na bewering al drie jaar besig om hom te ondersoek oor beweerde korrupsie en bewerings dat hy met Nigeriese dwelmsmouse saamwerk.

  • het die voorval bevestig en sê hulle is bly die korrupsie word vasgevat.

Pierie sê: “Ek is bly vir ons gemeenskap. Die gereg moet sy beloop neem. Korrupsie moet uitgewis word, want ons gemeenskap het nie sulke elemente nodig nie.

“Die manne en vroue in blou wat hulle aan sulke gedrag en misdrywe skuldig maak, moet vasgevat word.

“Hulle dien ons gemeenskap, maar vervuil ons kinders se gedagte met die drugs.

“Ons is trots op die kaptein en die ander cops wat hul werk doen.”

Die verdagte het blykbaar deelgeneem aan ’n raid waarin hulle drie weke gelede ’n groot hoeveelheid drugs gekonfiskeer het. Hy’t toe na bewering nie ál die drugs ingeboek nie. ’n Wakker kollega het onraad vermoed toe hulle agterkom van die drugs is skoonveld.

Die polisie het ’n lasbrief bekom om sy huis in Happy Valley te deursoek en die cops en Valke het in die huis op die drugs en dockets afgekom. Hy is op die toneel gearresteer.

Handel

Daar is na bewering nóg cops betrokke by die korrupsie en die polisie hoop om die ander ook binnekort te arresteer.

Volgens ’n aktivis teen misdaad en gemeenskapslid van Wolseley wat verkies om anoniem te bly, het die cops konkrete bewyse dat die cop met dwelmsmouse handel.

Die gemeenskapslid sê: “Daar kan nóg arrestasies verwag word. Die Valke is al drie jaar besig om hom te ondersoek. Dié keer het hulle egter konkrete bewyse.

“Ons is ’n klein dorpie en het ’n groot probleem met drugs. Daar was al verskeie optogte teen die drug-huise in die dorp. Die Nigerians is ook al uit die dorp verjaag oor hulle drugs verkoop.

“Die cops het dit as xeno­fobie afgemaak en die Nige­rians is weer in die dorp toegelaat.

“Ons is baie bly daar het uiteindelik iets gebeur om die drug-probleem in ons dorp aan te pak.

“Ons het altyd gekla oor die cops wat met die drug dealers saamwerk.”

Klagte

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die arrestasie van ’n 46-jarige man deur die eenheid teen korrupsie bevestig.

Volgens Van Wyk, is die verdagte gearresteer op aanklagte wat onder meer met regsverydeling verband hou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters