Verlede maand
Gasvrou ‘slaan vuis toe jol flop’
Susan CupidoFoto: Basil Davids  ~ 

ROBERTSON. – ’n Groep mense uit Kaapstad beweer hulle en hul gasvrou is soos honde weggejaag by ’n bash hier in die dorp.

Die funksie, wat Saterdagaand deur die Robertson Town-rugbyklub aangebied is, was volgens hulle ’n groot flop oor die sangeres Karin Kortjé ure te laat was vir haar performance in die Callie de Wet-saal.

Susan Cupido, ’n ontstoke supporter van Town, sê sy het die mense van die Kaap na haar huis genooi vir die naweek juis sodat hulle die bash kon geniet.

Sleg

Cupido sê haar gaste het al begin mismoedig word toe Karin ná ure se gewag nog nie opgedaag het nie.

Bouncy was een van die kunstenaars wat opgetree het.

“Hy was nie baie lank op die verhoog nie en ons kon hom glad nie hoor nie oor die klank so sleg was,” het Cupido gesê.

Liezel Willemse, een van die Kapenaars, sê hulle het R100 betaal vir die aand, en dit was geensins die moeite werd nie.

“Toe Susan die organiseerders vra hoekom die aand dan so ’n flop is, het hulle haar na die (klub se) voorsitter, Lionel Hendricks, verwys,” het Willemse gesê.

Volgens Cupido was die gort gaar toe sy Hendricks nader oor Karin.

Hulle het toe begin stry.

Hendricks het aan Son gesê dat hy Cupido baie mooi gevra het om nie so lelik op te tree nie.

“Nadat ek aan haar verduidelik het dat Karin laat gaan wees weens ’n ongeluk wat die verkeer opgehou het, het sy my met ’n vuis in die gesig geslaan.

Uitsit

“Ek moes sekuriteit inroep om haar uit die saal te verwyder voordat dinge sleg handuit ruk.

“Ek het nie die ander mense wat saam met Susan was, laat uitsit nie – hulle het self die saal verlaat,” het Hendricks gesê.

Son het gister sekere van Town se supporters gevra of hulle van die voorval weet.

Van hulle het gesê die aand was ’n groot sukses en hulle het nie eens van die voorval geweet nie.

’n Ander man het gesê wat hy gesien het, was ’n groot skande.

“Daai vrou was baie verkeerd,” het hy gesê.

Hendricks noem dat hy ’n saak teen Cupido gaan maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters