27 dae gelede
Flenterskool agter slotte
nog ’n dag: Die onnies sit rond terwyl die ouers betoog. Foto’s: KALLIE SMIT  ~ 

TULBAGH. – Ontstoke ouers het die Hoërskool Waveren laat Maandag ontruim en die hekke gesluit.

Nadat hulle die onderwysers en leerders beveel het om die skoolterrein te verlaat en die hekke gesluit het, het die ouers voor die skool betoog.

Dis oor hulle ontevrede is daaroor dat die onderwysdepartement (WKOD) sloer daarmee om die skool op te knap.

Die sekretaris van die skoolbeheerliggaam, Ricardo Kok (40), sê: “Die departement van openbare werke het ’n program vir 2019 uiteengesit om die skool op te knap totdat hulle met die bouery van die nuwe skool in 2021 begin.

“Niks het nog daarvan gekom nie. Die skool is besig om uitmekaar te val. Die plafonne is besig om inmekaar te stort. ’n Leerder is al beseer deur ’n stuk plafon wat op hom geval het.

“Die dakke lek en dit reën in by klaskamers, want die meeste van die ruite is flenters. Kaal kragkabels hou ’n gevaar in vir die kinders en personeel.

“Die isolasie val deur die stukkende plafonne op leerders en hulle sit en jeuk die hele dag van die stof.

“Die rioolstelsel is so sleg dat rioolafval deur die vloere sypel.”

Een van die beswaarde ouers, Valencia Daniëls (46), sê: “Die WKOD het op TV belowe die skool gaan dié jaar reggemaak word, maar niks het nog gebeur nie. Hulle moet hulle belofte nakom.

“Ons soek ons kinders veilig. Dit is nou omtrent 20 jaar vandat die agteruitgang van die skool begin het, en dis nou in so ’n vervalle toestand dat dit ’n veiligheidsrisiko geword het vir ons kinders.”

Terwyl die talle ouers buite die skool betoog het, het onderwysers op die sypaadjie oorkant die skool op kampeerstoele gesit.

Hulle het maar gewag om te kyk of die hekke weer oopgemaak sal word.

Van die ouers het Son op die skoolterrein begelei om te wys in watter toestand die skool is.

Die klaskamers, wat van hout gemaak is, val uitmekaar en die “mure” het groot gate. Dakplate word plek-plek met groot klippe in posisie gehou.

Die skoolhoof, Andelene Michaels, het by Son se besoek ’n vrou hospitaal toe geneem.

Die vrou het in die chaos een of ander aanval gehad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters