Verlede maand
Finale exams kom te laat
KOLLEGE: Die studente is geregistreer om die kursus op die Hugenote Kollege se Wellington-kampus te voltooi.  ~ Netwerk24

DIT is die een verskoning ná die ander.

Só voel ’n groep studente wat veronderstel was om hul finale eksamen in Maart 2020 te skryf. Maar nou blyk dit daar is net een vertraging na die ander.

Die studente is almal van die Hugenote Kollege se Wellington-kampus. Hulle het aan die begin van 2019 vir die Social Auxiliary Workers-kursus (NQF level 5) geregistreer en was onder die indruk dat hulle dieselfde jaar sou kwalifiseer.

Opgewonde

Volgens Johnwin Manuel (32) was die kampus-ervaring baie lekker.

Hy was ook opgewonde om teen die einde van 2019 of begin 2020 sy finale eksamen te kon skryf, maar dit het nie gebeur nie.

“Almal het Covid-19 die skuld gegee. Dit is nie dat die kollege nie op ons navraag reageer het nie. Dit is net dat hulle elke keer die Quality Council for Trades and Occupations (QCTO) en die Health and Welfare Sector Education and Training Authority (HWSETA) die skuld gegee het vir hoekom ons nie met ons eksamen kan begin nie.

“Daar is al ’n klompie voorstelle gemaak dat ons dit online kan skryf, maar die kollege sê nee.

“Volgens hulle is dit nie in hul bereik nie. Dit is volgens die kollege die QCTO en HWSETA wat dit moet doen,” sê hy.

Manuel sê hy voel dat dit vir die kollege gemaklik is om net ’n belofte te maak, maar dan te sê dat Covid-19 die planne kelder.

“Tot op hede het ons nog niks gehoor nie. Hulle sou ons weer laat weet het, maar ons het nog niks gehoor nie en dít is ons bekommernis.

“Ek het kollege toe gegaan om ’n beter lewe vir my en my kinders te gee.

“Tot op hede is daar niks behalwe leë beloftes en geld wat reeds betaal is nie,” sê Manuel.

“Baie werk word geadverteer, maar jy kan nie aansoek doen nie en mense kan jou nie aanstel nie omdat jy nie geregistreer is nie.

“Ons het ál die kennis wat ons opgedoen het, ons kan dit net nie gebruik nie,” se hy.

Nóg ’n student, Kurt van Wyk (21), sê dat sy nét so gefrustreerd is.

Sy het op dié kwalifikasie staatgemaak om haar graad deur die universiteit te kan doen, maar sy kan nie omdat sy nie gekwalifiseerd is nie.

“Hier is soveel werkgeleenthede, maar ek kan ook nie gaan werk nie. Ek sit nou maar by die huis en moet weer finansieel op my ouers staatmaak. Ek kon al gewerk het en my eie salaris verdien het, maar nou is dit net weer dieselfde as in die verlede,” sê sy.

Zama Mamcesi (30) het ook in 2019 by dié kollege begin. Sy het ’n borg gekry wat haar studiegeld, koshuisgeld en alledaagse uitgawes betaal het.

“Ons het geweet dit is ’n eenjaarkursus. Net voordat ons ons practicals in Augustus 2019 moes doen, het ons uitgevind dat ons nie die eindeksamen in dieselfde jaar sal skryf nie. Ons was baie verbaas.”

Verskoning

Ons het aanvaar dat ons in Maart sal skryf en dan ’n maand of twee later gekwalifiseerd sal wees.

Maar ons het niks gehoor oor wanneer presies in Maart 2020 ons sou skryf nie,” sê sy.

Mamcesi sê sy het selfs navraag gedoen en die kollege het vir haar gesê dat hulle op die QCTO en HWSETA wag.

“Ons het heeltyd gevra en Covid was altyd die verskoning. Ek wil net graag weet wanneer ons skryf,” sê sy.

Volgens Mamcesi affekteer dit haar geweldig omdat sy ook kinders het wat sy moet ondersteun.

“Ek voel ek word van geleenthede teruggehou en ons kry net nie antwoorde nie. Dit is moeilik en ek sit sonder ’n salaris.

“Ek kan nie my kinders onderhou nie.

“Ek kan ook nie my ouers ondersteun nie en hulle moet nou gevoed word en klere gegee word. Dit is baie moeilik,” sê sy.

Mamcesi sê sy voel baie emosioneel omdat sy in die steek gelaat word. Sy wil graag net met haar lewe aanbeweeg en werk.

Die rektor van dié kollege, prof. Nelus Niemandt, sê dat die kursus vir die periode van 2019 was, maar dat die QCTO twee keer per jaar finale (Eisa) eksamens aanbied. Een eksamen is normaalweg in Maart.

Niemandt sê die rede waarom die studente nie in Maart 2020 geskryf het nie, is wel as gevolg van Covid-19-regulasies.

“Vir hierdie jaar (2021) was dit ’n dispuut oor generiese opleidingsmateriaal wat nie deur alle relevante belanghebbendes goedgekeur is nie.

“Maar Hugenote Kollege het egter sy eie goedgekeurde opleidingsmateriaal,” verduidelik Niemandt.

Hy voeg by dat sodra die QCTO die Eisa-datum bekend maak, wat voorlopig in November is, sal die eksamen afgeneem word.

Die sertifikate word deur die QCTO uitgereik en is vir indiensneming geldig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters