13 dae gelede
Fans kan ’n bôl hê
trots: John Jooste en Franklin Arendse staan by die paviljoen wat deur plaaswerkers gebou is. Foto’s: Peter luitjies  ~ 

TULBAGH. – ’n Skitterende idee het ’n werklikheid geword. Nou kan almal lekker rugby kyk.

Nadat John Jooste die idee gekry het vir ’n paviljoen, het hy en die voorsitter van die Plaaswerkersvereniging, Franklin Arendse, koppe bymekaargesit. Daarna het hulle die wiel aan die rol gesit om vir die plaas­werkers ’n paviljoen te bou.

Jooste is die afrigter van die rugbyklub Try Again. Dit is sy visie om die plaaswerkers te bemagtig.

Hy en Arendse het na Nicky Webb by die steen­fabriek gegaan om boumateriaal te vra. Die volgende dag is stene afgelewer.

Jooste vertel: “Aanvanklik wou ons die paviljoen net so gebou het. Maar Ben Slater, een van die plaaseienaars, het voorgestel dat daar volgens ’n plan gebou word.

“Ben sou vir die koste van die bouplan betaal.”

Intussen het Slater kontak gemaak met die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit. Hy het ’n voorlegging ingedien met die hoofklem dat die plaaswerkers voordeel sal trek en dat dit die eiendom van die plaaswerkers sou word.

“Die idee is immers ’n eerste vir die Witzenbergstreek.

“Plaaswerkers en hulle kinders sal voordeel trek uit die geriewe en die ander organisasies wat die belange van plaaswerkers op die hart dra.”

Die primêre skole Drostdy, Montrouge VGK en Twee Jonge Gezellen VGK en Privaat Skool Rijk Tulbagh gebruik tans die geriewe.

“Voorwedstryde word gereeld gereël. Die ouers het nou die gerief om te sit en na hulle kinders te kyk,” spog Arendse.

Jooste is dankbaar teenoor plaaseienaars wat by­gedra het.

Die plaaseienaar Chris Offer het sy werkers Saterdagoggende kom aflaai om die paviljoen te bou en die dag opgeoffer.

Die grootste gedeelte van die projek is deur die Kaapse Wynland moontlik gemaak.

Die distriksmunisipaliteit het ook drie skuifbare paviljoene geskenk – iets waaroor mense ewe dankbaar is.

Hoewel die behoefte aan dinge soos grassnyers en spreiligte nog groot is, is hier minstens nou iets wat die gemeenskap saamsnoer.

Sonder inisiatief sou dit nooit gebeur het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters