11 dae gelede
Ere vir dié lede
HÊPPIE: Grant Jantjies (heel links), Joe-Marc Stuurman (agter), Lizette Mouton (voor), Christiaan de Vlam (organiseerder) en Christian Abrahams.  ~ Foto Verskaf

DIE gemeenskap van Grabouw het polisiebeamptes van die plaaslike polisiestasie se harte gesteel deur hulle vir hul uitstekende werk te vereer.

Dié cops is onlangs vereer vir die ekstra myl wat hulle daagliks stap om hul gemeenskap te help.

Só sê Isabel Bailey, ’n gemeenskapsleier wat gereeld saam met die polisie aan liefdadigheidsprojekte werk.

Betrek

Volgens Bailey het sy en nog ’n gemeenskapswerker, Christiaan de Vlam, met die idee vorendag gekom om die polisiebeamptes te vereer.

Sy sê hulle het geweet hulle kan dit nie op hul eie doen nie en het daarom die gemeenskap betrek.

Hul job was om die bestes te kies, skerts Bailey.

Sy vertel: “Ek en Christiaan het besluit dat die gemeenskap moet stem om te kyk of hulle ook dieselfde soos ons voel.

“Sodra mense erkenning gee, begin daar beterskap.

“Elkeen van dié wat gekies is, wil die ekstra myl stap in sy werk en die diens wat hy lewer.

“Deur die polisiebeamptes te vereer, sien hulle die gemeenskap hou hulle dop en dat daar omgegee word.

“Ons moet verbetering bring in ons gemeenskappe.

“Dis hoe ’n mens mense uplift.”

Bailey sê die frontline workers is altyd die mense wat deur ander afgebreek word en dit moenie so wees nie.

Hieroor sê sy: “Ons kraak mos net die polisie, verpleegsters en die paramedics af.

“Wanneer ’n mens aan hulle erkenning gee, dan wys jy daai liefde en omgee.

“Dít is my visie en my missie. My hart is oor mense.

“Ons moet nie net die negatiwiteit na vore bring nie.

“Hulle is uiters goeie mense in hul diens.”

Bailey sê diegene wat nie vanjaar vereer is nie, moenie dink hulle is nie goed nie.

Sy sê hoewel talle goeie werk lewer, sal dié wat vereer is altyd die ekstra myl gaan.

Behalwe dat die polisiebeamptes sertifikate ontvang het, is hulle ook met lekker geskenkbewyse bederf.

Hulle kan hulself inboek by die plaaslike gastehuis, waar hulle kan ontspan en hul werkskoene uitskop.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters