Verlede maand
‘Engel’ laat ’n geskenk agter
HARTSEER: Angel Afrika (16) het gesterf nadat sy die lewe aan haar seuntjie gegee het.  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – ’n Jong mammie het die lewe aan ’n pragtige babaseuntjie geskenk... en toe sterf sy.

Angel Afrika (16) het Sondagoggend haar baby gehad, maar net ure daarna het tragedie die gesin getref.

Die familie is gebroke, maar wil die Here dank dat Angel haar seuntjie fris en gesond in die lewe gebring het.

Bloeddruk

Angel se hartseer mammie, Anneline Regue (45), sê Angel moes ’n keisersnee ondergaan om die baby in die lewe te bring.

“Die geboorte het goed verloop en Angel was orrait,” vertel Anneline na aan trane.

Sy sê later die aand het Angel se bloeddruk egter drasties geval en sy het toe afgesterf.

Volgens Anneline is die baby perdfris en gesond, en word tans by ’n hospitaal vir observasie gehou.

“Angel was, soos haar naam sê, onse engelkind.

“Sy was ’n spontane kind wat met almal gemeng het.

“Al haar maats was gek oor haar,” vertel die hartseer mammie.

“Ek gaan my kind baie mis, maar ons is dankbaar vir die kleindingetjie wat sy vir ons agtergelaat het.”

Langeberg Sekondêr, die skool waar Angel ’n gr. 11-leerder was, het ook sy medelye uitgespreek.

Hulle sê Angel sal altyd in hul gedagtes wees.

Nog van haar klasmaatjies sê in die sosiale media dit voel nog baie onwerklik.

“Angel sal vir altyd in onse harte voortleef, mag sy sag rus,” skryf een.

Omsien

Nog ’n skoolmaat sê Angel het diep in hul hart ingekruip en sy was ’n pragtige meisie met die mooiste glimlag.

Anneline sê hulle as familie waardeer die woorde van bemoediging, maar dit gaan nog lank neem voordat dié wond begin genees.

Anneline sê sy gaan goed na haar kleinseun omsien, net soos haar dogter dit sou wou hê.

Begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters