6 maande gelede
‘Ekstra oulappie’
Happy: Katriena Jacobs (65) spog met die ekstra R10 wat sy op haar oulappie gekry het. Foto’s: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – So ’n paar mense wat Sassa-geldjies trek, het gedog so ’n klein Krismissie het te vroeg gekom toe hulle op die eerste gaan AllPay trek.

Vir Katriena Jacobs (65) was dit die ekstra R10 by haar AllPaytjie wat haar sommer lekker laat skater het.

Sy het heel verbaas verduidelik: “Vi’oggend toe ek reeds van sesuur af in die queue staan en my geldjies ko’ trek, sien ek daar is ’n ekstra ten bucks by.”

Volgens Jacobs weet sy nou nie of government vir haar ’n bonus gegee het nie.

Jacobs was vasbeslote om met daai tienrandjie vir haar ’n halfie vaalwyn te koop.

“Dit sal mos nou nie skade doen nie. Dis ’n R10 wat ek nie verwag het nie. So, ek kan mos myself so ’n bietjie entertain,” sê sy.

Die Steenberg-familie en dié se kinders was ook reeds vroeg op AllPay-dag in die dorp om hulle shopping te doen.

Anna Steenberg (50) pay vir vier kinders. Sy verduidelik: “Ek moet met die geld hulle Krismisklere koop en vir elkeen ’n Kersgeskenkie.”

Petrus Marais (56) trek ook pay.

Hy kla mense kyk hom altyd skeef aan wanneer hy sy AllPay trek.

Hy kla: “Mense skel dat ek gesond is en onnodig pay en dat ek ’n job moet kry.”

Maria Steenberg (44) het ook planne met haar oulappie.

“My huis se krag is af en ek wil ’n tweeplaatstofie kry,” sê sy. Dié keer wil sy genoeg krag koop sodat die stofie die Krismiskos kan gaar kry.

Henry de Grass, Sassa-woordvoerder, sê party begunstigdes het inderdaad iets ekstra op hulle Desember pay gekry.

Hy sê: “Dit is nog geld wat in van die mense se ou kaarte was. Dit is in hulle rekeninge inbetaal.”

De Grass sê die volgende uitbetaling sal nou op 28 Desember wees.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters