16 dae gelede
Eienaar van nr. 18, staan gou op
ONTSTOKE: Jeff Filander sê hy wil by die regte adres intrek.  ~ Basil Davids

MCGREGOR. – ’n Man het eers onlangs ontdek dat hy in die verkeerde Madiba-huisie ingetrek het.

Jeff Filander sê hy bly in Hoopstraat nr. 18.

Maar die ontstelde Filander sê dat sy buurman nou die dag gesê het dat sy huisnommer óók nr. 18 is.

Die buurmanne kon toe nie verstaan wat aangaan nie en hulle sommer onmiddellik na die munisipale kantore op die dorp gehaas.

Volgens Filander het ’n vrou op hul system gaan kyk of daar moontlik twee huise in daai pad dieselfde huisnommer het.

Filander sê dat die betrokke vrou aan hom gesê het dat hy inderdaad nié in huis nommer 18 bly nie en dat sy buurman eintlik in nommer 18 is.

“Ek was baie teleurgesteld en het in daai kantoor daarop aangedring dat ek in die huis intrek waar ek in die eerste plek moes gaan bly het,” het Filander vertel.

Volgens hom weet hy nie wat die korrekte nommer van sy huisie is nie. Hy dring nou daarop aan om in te trek by die huis wat in die eerste plek syne moes gewees het.

Filander moan ook wanneer dit reën, dan verspoel sy hele plek.

“Nadat die reën baie kwaai geval het, kan ons nie eens uit ons huis kom nie, so hoog staan die poele water tot teen die deur,” het Filander gesê.

Eienaar

Willy-John Gordon, munisipale woordvoerder van die Langeberg-munisipaliteit, sê dat Filander inderdaad in Hoopstraat nommer 18 bly.

Gordon sê in ’n akte geregistreer op 18 Februarie 2017 spesifiseer dit dat Filander die wettige eienaar van die erf in Hoopstraat nommer 18 is.

Gordon het nie gesê wat die buurman se huisnommer is nie. Hy sê dat Filander ook nooit oorstromings by sy erf aangemeld het nie.

In ’n onverwante voorval moan Carol Lots net so. Lots sê voor haar deur in Orley­straat 41, Robertson, bars daar gereeld ’n waterpyp.

Sy sê sodra die pyp gefix word, is dit nie lank nie dan bars dit net weer en hul hele huis is dan onder water. Sy sê die munisipaliteit moet daai pyp ordentlik kom regmaak, want die winter is op hande.

Gordon moedig mense aan om oorstromings aan te meld by 086 088 1111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters