25 dae gelede
Eenjarige verdrink in drein

ASHTON. – ’n Tragedie het hom kort voor Jeugdag hier afgespeel toe ’n babaseuntjie in ’n drein geval en verdrink het.

Die voorval het Sondag omstreeks 19:00 in Hoofweg gebeur.

Wayde Mouries (1) se gebroke daddy, Deon, kon gister skaars woorde uitkry so emosioneel was hy.

Wayde se mammie, Gwynneth, was heeltemal troosteloos en Deon moes haar vasdruk.

Gwynneth het aanhoudend gehuil van die rou skok oor haar lieflingseuntjie se dood.

Toe Deon Son die drein gaan uitwys waar Wayde ingeval het, het sy niggies en nefies saam na die hartseer-toneel geloop.

Deon sê Gwynneth en Wayde het vroeër die aand na ’n winkel naby hul huis geloop.

“Toe hulle terugloop huis toe, het Gwynneth ’n vriendin van haar raakgeloop,” vertel hy hartseer.

“Hulle het toe begin gesels terwyl my vrou nog Wayde­ se handjie vasgehou het.”

Hy sê Wayde het toe sy ma se hand gelos, ’n ent gehardloop en in die drein beland.

“Gwynneth het nog gesê sy het probeer om Wayde uit die drein te haal ...” vertel Deon terwyl die trane oor sy wange rol.

Volgens Deon het Gwynneth hom kom roep. Hy vertel: “Ek het toe in die drein geklim en onder die water na Wayde probeer soek, maar ek kon hom nie kry nie.”

Deon sê die drein is ongeveer ’n meter diep.

“Ek het toe uitgeklim en intussen is die brandweer ontbied,” vertel hy.

Wayde se liggaampie is omstreeks 20:00 uit die water gehaal.

Gehang

Deon sê hy het verneem dat Wayde sy nekkie gebreek het.

“Sy koppie het slap gehang en ons het geweet dat hy nie meer met ons is nie,” sê hy.

Baie mense het al gekla oor die drein wat al maande oop lê.

Volgens Deon is die drein kort na die voorval toegemaak.

’n Geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters