4 maande gelede
KYK: ‘Een speler het bly lê’

BREDASDORP. – Nooit het sy gedog dit sal die laaste keer wees dat sy hom sien rugby speel nie.

So vertel ’n hartseer Brenda Newman (54), by wie die kranige rugbyspeler Benwill Adelaar gewoon het.

Adelaar (15) het die afgelope twee jaar by haar gewoon.

Die gr. 8-leerder aan die Hoërskool Albert Myburgh in Bredasdorp is verlede Donderdagmiddag in Villiersdorp dood in ’n wegwedstryd teen die Hoërskool Villiersdorp se o. 15-rugbyspan.

Adelaar het vleuel gespeel.

Hy het blykbaar sy nek beseer. Volgens een van die rugbyspelers van die Hoërskool Villiersdorp het die outjie kort ná sy besering nog gesê hy voel nie lekker nie.

Minute later het hy op die veld inmekaargesak en net daar gesterf.

Die paramedic het hom op die veld dood verklaar.

Volgens die hoof, Kenneth Dunsdon, het die leerders by die skool reeds berading ontvang.

“Dis baie tragies wat gebeur het. ’n Leerder met ’n blink toekoms en in die fleur van sy lewe is dood.

Plaas

“Benwill was baie eerbiedig en gedissiplineerd. Hy het in sport én akademie uitgeblink.”

Volgens Newman was sy een van die ouers wat die rugbywedstryd in Villiersdorp bygewoon het.

Newman vertel: “Hy het sedert 2017 by my gewoon en naweke na sy ouers op die plaas gegaan.

“Een van die onnies het gevra of hy by my kan oorslaap, want die skoolbus ry te vroeg en hy moet agterbly vir die rugbyoefeninge.

“Hy was baie lief vir rugby en dit was die eerste keer dat ek gaan kyk het as hulle weg speel.

“Die voorval het in die laaste paar minute van die wedstryd gebeur.

“Daar was ’n losgemaal en Benwill moes gaan druk het.

“Hy het vleuel gespeel en was baie vinnig.

“Ná die losgemaal het die skeidsregter die wedstryd af geblaas.

“Die spelers het opgestaan en van die veld afgeloop, maar een van die spelers het nie opgestaan nie en bly lê.

“Ek het opgestaan van die paviljoen af en gekyk waar Benwill is.

“Hy was nie tussen die ander spelers nie en ek het na die veld gegaan.

“Hulle wou nie hê ons moet naby hom kom nie.

“Die paramedici was besig met hom en ek het vir hom gesê hy is ’n vegter en moet sterk wees.

“Sy oë was oop en hy het nog ’n rukkie vasgehou voordat hy afgesterf het.”

Volgens Newman het hulle die vorige aand nog lekker gebraai en Adelaar en haar seun het na musiek geluister en gedans.

Adelaar se ouers was gister in Caledon by die begrafnisondernemer om die begrafnisreëlings te tref.

Sy ma, Elizabeth (34), is swanger en was in die Otto du Plessis Hospitaal toe sy die tyding kry.

Gedenkdiens

Die mammie het ’n hartkwaal en haar bloeddruk was hoog, daarom het die dokter haar in die hospitaal laat opneem om die swangerskap te monitor.

Sy is Saterdag uit die hospitaal ontslaan.

Daar sal vanaand ’n gedenkdiens by die skoolsaal gehou word.

Adelaar sal Saterdag 09:00 vanuit die Kerk van die Heilige Gees in Golfstraat begrawe word.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters