16 dae gelede
Duiwel se huis is nou plat
EERS KWAAI: Dié huis was op ’n tyd ’n groot bron van kommer vir inwoners.  ~ Basil Davids

ASHTON. – ’n Mandela-huisie wat twee dekades as die “duiwelhuis” bekend gestaan het, is uiteindelik afgebreek.

Son het nog oor die Hop-huisie naby Hungry Town berig waar daar vreeslike duiwelsdinge aangegaan het. Dit was só erg dat bloedjong meisies oggendure poedelnakend nog dik getik daar uitgekom het.

’n Paar maande nadat Son oor die huis van duiwels berig het, is die huis nou tot op sy fondasie platgevee. Inwoners in die omgewing het aan Son gesê dat hulle baie bly is dat die huis uiteindelik platgestoot is.

’n Inwoner het in daardie stadium aan Son gesê dat hier vreeslike goeters aangegaan het.

“Jong meisies het hul liggame hier kom verkoop vir drugs en dagga. En tik was aan die orde van die dag hierso,” het die inwoner nog aan Son gesê.

Vrede

’n Ander man wat ook verkies om nie sy naam te noem nie, sê dat hy al jare gelede gepleit het dat die huis afgebreek moet word omdat daar duiwelsdinge broei.

“Ek is baie bly hieroor en ek kan nou ook in vrede leef ná al die klompie jare,” sê dié gelowige tevrede.

Son verneem ook dat hier by die huis al vele opelugdienste gehou is. Die pastore het hande gevat dat die huis platgestoot moet word en dan hardop gebid dat die duiwel uit die spot ’n lange na sy hel moet gooi.

Mense sê dat God hul gebede ná al die jare verhoor het.

Van die mense het aan Son gesê dat dit nou wel jare gevat het om die duiwelshuis tot ’n einde te bring, maar die buurt se mense voel uiteindelik die kalmte.

“Die geraas en gekreun wat ons altyd deur die nagte moes hoor, is nou iets van die verlede. Ons hoop dat hier nooit weer ’n satanshuis in die dorp sal kom nie,” het van die mense verlig gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters