Verlede maand
Duiwe is sy passie- en terapie
In sy element: Waar vandag se kinders hulle met al wat ’n elektroniese gadget is wil besig hou, put Aydon Williams vreugde uit sy duiwe.Foto: ian baard  ~ 

’N JONG duiweboer van die Strand is besig om naam te maak.

Aydon Williams (15) se liefde vir wedvlugsport kom van kleins af aan.

Sy pa, Charl, sê dié sport is in die Williamse se bloed, want sy ooms, wyle Willie en wyle Andrew Williams, het ook in hierdie sportsoort goed presteer.

Aydon is ’n junior lid van die Strand District Homing Union.

In hierdie jaar van Covid- 19 was dinge maar vir almal moeilik. Tog het dié tienerseun daarin geslaag om drie groot wedvlugte te wen.

Dit was die wedvlugte in onderskeidelik Sutherland, Vryburg en Britstown.

Aangemoedig

Aydon vertel: “Ek was 11 jaar oud toe ek in die sport begin belangstel.

“My pa se vriende Leonard Valentine en Abe Chachane het my aangemoedig en baie bygestaan met wat ek vandag het.

“Wat ek van die duiwe likes, is hulle kalmeer my baie wanneer ek nie ’n goeie dag by die skool gehad het nie. Dan klim ek in die duiwehok en ná ’n paar uur is ek ’n nuwe mens.”

Aydon het ongeveer 80 duiwe, waarvan 10 wit is. Begrafnisondernemers huur gereeld dié wit duiwe om van die begrafnisseremonies deel te wees.

Hy sê dit kos so R2 000 per maand om die duiwe aan te hou en te sorg dat hulle gesond is. Verskeie van die senior lede in die klub voorsien hom van raad.

Volgens Aydon is sy pa, Charl, en ma, Brigette, en sy susters, Tatum (9) en Shiloh (3), sy grootste ondersteuners.

Shiloh sal saam met hom in die duiwehok klim en ook sorg dat niemand naby die hok is wanneer die duiwe die Saterdag van ’n wedvlug huis toe moet terugkeer nie.

Aydon moedig enige jong mens aan om dié sportsoort te probeer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters