26 dae gelede
Drie van klub bult pryse los
TOPPLEK: Johan Ludick het eerste gekom in die kompetisie.  ~ Foto Verskaf

DIE spiertiere van die Elsiesrivier-gesondheidsklub het verlede week hul klub se naam hoog gehou.

Drie lede van die klub wat Saterdag 12 Desember in Claremont aan die Ignite Fitness Classic Bodybuilding-kompetisie deelgeneem het, het met verskeie pryse weggestap.

Johan Ludick (44) van Elsiesrivier het eerste gekom in die Master 1-afdeling sowel as die algehele kompetisie.

Ludick, wat al van 17-jarige ouderdom af spiere bou, sê dit was maar moeilik in die lockdown toe hy by die huis moes oefen.

“Ek was terug in die gym net toe dit oopgemaak het.”

Dit was Ludick se eerste kompetisie sedert Februarie vanjaar voordat die inperking begin het.

Sharlet Jacobs (41) van Bishop Lavis was die naaswenner in die afdeling vir Mej. Bikini.

Jacobs sê sy was verskriklik senuweeagtig omdat dit haar eerste liggaamsbou-kompetisie was.

“Ek gym al meer as ses jaar, maar het nooit daarin belanggestel om aan kompetisies deel te neem nie.”

Jacobs het haar laas jaar by die Elsiesrivier-gesondheidsklub aangesluit.

Sy vertel liggaamsbou is iets buite haar gemaksone.

“ ’n Dame by die klub het my uit die bloute gevra hoekom probeer ek nie die kompetisie nie en my antwoord was eers ‘nee’.

Selfvertroue

“Drie weke voor die kompetisie het ek besluit om deel te neem,” sê Jacobs.

Jacobs is ’n ma van ’n agtjarige seuntjie. Sy oefen drie dae ’n week vir twee en ’n half uur.

Jacobs sê deur die kompetisie het sy baie meer selfvertroue gekry en sy is opgewonde vir die pad vorentoe omdat sy weer aan kompetisies gaan deelneem.

Agostino Mateus (45) van Elsiesrivier het weggestap met die tweede prys in die bantamweight-afdeling.

Mateus is ’n voormalige Wes-Kaapse kampioen in sy gewigsafdeling.

Hy is sedert 2002 lid van die gesondheidsklub. Hy sê hy’t ’n groot liefde vir die sport en het al aan talle kompetisies deelgeneem.

Hy kan skaars onthou hoe lank hy al ’n bodybuilder is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters