2 maande gelede
Drie met roerende diens onthou
Wellington, Bainskloofpas drie roudiens by skool.
TRANE: Carl Smit jnr., pa van die seuns, was ontroosbaar.  ~ Peter Abrahams

DIE klasmaatjies van Caleb (7) wat Saterdag saam met sy twee broertjies Gradwill (4) en Joshua Smit (1) in die Bainskloofpas-ongeluk gesterf het, het Vrydagoggend snot en trane by hul gedenkdiens gehuil.

Die Wellington Primêre skool het ’n hartroerende gedenkdiens vir die drie boeties gehou waar, Caleb, ’n gr.1 leerder was.

Carl Smit Jnr, die boeties se pa, het vanoggend alleen saam met sy familie die gedenkdiens bygewoon.

Hy het aan Son gesê die mammie, Juanita Booysen, vat haar kinders se dood baie swaar en het dus nie die gedenkdiens bygewoon nie.

Carl jnr.  sê met ’n swaar hart tragedie het hulle te vinnig getref en dat dit steeds onwerklik voel dat al drie sy kinders op een slag dood is.

“Dis baie moeilik. Ek kan dit steeds nie glo nie. Saterdag het ek dan nog lekker met hulle geswem en gespeel. Dit was amper soos ’n afskeid.

“Als het so vinnig gebeur. Dit voel nie asof my seuns weg is nie. Ek weet hulle is weg, maar ek weet nie hoe ek sonder hulle gaan lewe nie.

“Ek het darem die ondersteuning van my ma- en my pa-hulle. Hulle almal staan my by. My oupa en die hele familie ook,” sê ’n hartseer Carl jnr.

Carl Smit snr, die oupa van die drie boeties sê hulle het soveel vrae.

Smit snr. het aan Son gesê hulle lewe sal nooit weer dieselfde wees nie en dat dinge nie oornag beter sal raak nie.

Hy sê: “Ek het self klein kindertjies en dit kon een van hulle ook wees.

“Hulle was baie oor hul oupa. Hulle het altyd vir my getart en gesê ek is die oupa met die vet maag.

“Ek gaan hulle baie mis, maar ek weet hulle vlieg hoog."

Past. Cedrick Jansen het ’n bemoedigende boodskap vir die familie en skoolgemeenskap gebring.

Jansen sê hy weet die familie gaan vir die Here vra hoekom dit met hulle gebeur het.

Hy sê die Smit-familie moet onthou in alles is God daar.

Jansen preek: “Wanneer julle moedeloos en sonder hoop is weet dat die Here daar is. Selfs wanneer niks meer sin maak in die seer nie.

“Hier is ouers wat nog nie ’n kind afgestaan het op hierdie ouderdom nie en daarom sal ons nie weet wat hulle deurmaak nie.

“Ouers weet dat Caleb nou in die hemel sê sy broers het genoeg en hy sal kyk na hulle.

’n Begrafnisdiens sal Saterdag vir die drie boeties in Wellington gehou word en daarna ’n privaatverassingsdiens.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters