8 dae gelede
Drama voor mayor se deur
LUISTER HIER: Die mayor se vrou, Jené Poole, konfronteer die CDR-leier, Michael Jacobs.  ~ Foto Verskaf

PAARL. – Die gedeelte van Flaminkstraat buite die uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, se huis in Amstelhof was Sondag ’n toneel van groot drama.

Dit het gevolg nadat lede van die Concerned Drakenstein Residents (CDR) voor Poole se huis betoog het.

Poole se vrou, Jené, sommige DA-raadslede en neighbours het egter tot die ver­dediging van die mayor gekom en hom teen CDR se “leuens” verdedig.

’n Geveg tussen die twee groepies het uitgebreek. Die polisie wat na die toneel ontbied is, het egter betyds aangekom om enige be­serings te verhoed.

Die konfrontasie en die vloekery is op video opgeneem en in die sosiale media versprei.

’n CDR-persverklaring lui: “Die protesoptog het gevolg nadat Poole sy belofte aan die inwoners van Paarl-Oos verbreek het dat kragtoevoer op Donderdag 18 Februarie aangesluit sou word sonder enige betaling, deurdat inwoners ’n onderlinge reëling met die munisipaliteit kon tref.

“Dit volg nadat kragtoevoer van Paarl-Oos huishoudings op Woensdag 17 Februarie afgesny is, waarna die CDR-bestuur die burgemeester besoek het om ’n middelweg te vind.

“Tydens ’n petisie voor Poole se huis het laasgenoemde en drie Drakensteinse DA-raadslede, Eva Gouws, Rita Andreas en Va­nessa Booysen, afbrekende en beledigende woorde aan die CDR-leierskap toegesnou, waarna die burgemeestersvrou, Jené Poole, die CDR-leier, Michael Jacobs, met gewelddadigheid gekonfronteer het.”

Baklei

In ’n video van vyf minute wat Poole aan Son gestuur het, is dit nie duidelik hoe die geveg begin het nie.

GAAN WEG: Die uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, Conrad Poole, konfronteer CDR-lede Sondagmiddag buite sy huis in Amstelhof in Paarl-Oos. Foto: Verskaf

’n Mens kan egter sien hoe Poole se groep die CDR-lede konfronteer.

“Daai is leiers wat so baklei!” gil iemand wat klink soos Poole.

Daar kan ook op die video gesien word hoe ’n jong seun, moontlik ’n tiener, vanaf Poole se groep hardloop en een van die CDR-lede spear tackle.

’n Ontstoke Poole het later Sondagmiddag op sy Facebook-blad oor die voorval gepost en gesê die CDR-lede het voor sy huis se deur “gesing en gedans en leuens verkondig om stemme te werf”.

Hy beweer verder CDR-leiers het niks gedoen om hul lede te keer toe hulle ’n jong seun en ’n vrou geslaan het nie.

“Waarvoor is CDR so desperaat? Kom speel politiek op die manier hoe hy gespeel word,” skryf Poole.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters