Verlede maand
Draadwerk is sy passie
Talent: Jonathan Hoffman by die twee groot draadolifante wat hy gemaak het.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

PAARL. – Hy gebruik sy passie om ander te help deur vir hulle te wys hoe om draadwerk te doen.

Vir Jonathan Hoffman (46) kos dit niks om ander te leer hoe om hul hande te gebruik nie.

Hy is die man agter die twee groot draadolifante wat baie bekend in die dorp is. Dit het hom omtrent twee jaar geneem om klaar te maak.

Hoffman vertel: “Toe my kleinkind gebore is, het ek vir myself gesê ek moet iets maak waarna hulle kan terugkyk as ’n simbool van wat ’n mens kan bereik.”

Hoffman sê toe hy so 11 jaar oud was, het hy ’n draadkarretjie as speelding gehad, maar kon dit nie self maak nie.

“Ek het vir iemand gevra om my te wys hoe om my eie draadkarre te maak en van daardie tyd af het ek dit self begin doen.

“Ek het besef ek hou daarvan om met my hande te werk en so het my passie gegroei.”

Hoffman sê hy het voltyds begin fokus op sy draadwerk ná ’n ongeluk by die werk waarin hy sy rug beseer het.

“Dit het gemaak dat ek by die huis sit, maar ek wou steeds werk. Ek het saam met ’n ander groep mans ligte werk gedoen en besemstokke begin maak.

“Ek het ’n Rastaman ontmoet wat mandjies vleg met riet en hy het vir my gewys hoe om dit te maak.

“Ek het my eie riet gekry en self mandjies begin vleg en dit begin verkoop.

“Die ondersteuning wat ek nou kry, is maar net genoeg om te oorleef, maar ek wil nie alleen oorleef met die talent wat ek het nie.

“Ek dink baie mense kan benefit van dit, veral kinders en manne wat nie werk nie. Daar is baie potensiaal in ons gemeenskap en dis waarom ek altyd uitreik na mense om te kom leer.

“My plek is oop vir enige iemand wat wil leer. Dit is ’n plek van veiligheid en ’n plek waar ons mekaar help.”

Hy wil graag eendag sy eie fabriek oopmaak waar hy meer mense die geleentheid kan gee om te werk.

Inspireer

Intussen sal hy aanhou om mandjies, lampe en ander rietwerk te maak en te verkoop.

Hoffman sê hy is dankbaar vir al die ondersteuning wat hy tans ontvang en hoop sy passie inspireer iemand.

As enige iemand vir Hoffman wil ondersteun, whats­app hom by 062 420 0120.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters