Verlede maand
Dorp vóél erge ramp
GEBREEK: Johanna Lotriet huil oor haar dogter Geraldine.  ~ Melinda Stuurman

DAAR was baie bloed.

Mense het gehuil.

Daar was baie mense wat seergekry het.

Só vertel een van die oorlewendes, Sylvia Julius, van die padongeluk waarin ses van haar medewerkers dood is. Ál die slagoffers was van Touwsrivier en het as seisoenwerkers op die Buffelskraalplaas in De Doorns gewerk.

Die ongeluk het Dinsdag op die N1 naby die Montagu-afdraai plaasgevind.

Julius het twee familie­lede in die ongeluk verloor – haar suster Josephine Goliath (46) en haar susterskind Beverley Jacobs (33).

Hulle drie het Dinsdag nog saam op die werk se lorrie geklim.

“Ek het verlede jaar daar begin. En dit was net om uit te help. Die lorrie tel ons voor 06:00 op.”

Volgens Julius het sy net ’n slag gehoor en toe het die trok omgeslaan. “Ek het hard na die Here geroep en gevra dat hy my lewe sal gee en lewe in oorvloed.

“Toe ek omkyk, het ek gesien mense lê gestrooi om my. Dit was soos ’n nagmerrie.”

DIS VERSKRIKLIK: Denise Olivier en haar seun, Evin van Willengh. Foto: Melinda Stuurman

By die Abrahams-familie het hulle ’n broodwinner verloor.

Petrus Abrahams (38) was die enigste een in dié gesin van ag wat gewerk het, vertel sy familie.

Hanna Stoudert (54) se seun, Shaun, sê sy ma se laaste woorde was dat hy moet kyk na Hanno.

“Hanno is my kind wat van geboorte af by my ma gebly het. Hy is soos my ma se kind. Sy ma het hom nie grootgemaak nie.”

Shaun huil as hy praat oor die verlies van sy ma.

“Ek voel meer hartseer vir my kind. Hy was baie oor my ma en sy oor hom. Nou weet ek nie wat om vir hom te sê nie.”

Evin van Willengh sê sy ma, Denise, en pa, Marius Olivier (58) het albei op die plaas gewerk.

“Denise het laas maand opgehou werk op die plaas.

“My pa was Dinsdag laat vir werk en normally kom die trok nie tot by die huise nie. Maar Dinsdag het dit tot voor die deur gekom en gewag vir my pa. As hulle my pa moes gelos het, het hy nog gelewe.”

Genoodsaak

Geraldine Lotriet (37) het verlede week op Buffels­kraal begin. Die ma van vier, waarvan twee ’n eenjarige tweeling, sê werk by die plaaslike Aquila-natuur­reservaat het vir die lockdown gesluit.

“My vrou is genoodsaak om ’n ander inkomste te soek, want hulle is net mooi gesê: ‘No work, no pay,’ ” vertel haar lewensmaat, Michael­ Visagie. “Ek werk ook nie op die oomblik nie en ons het babas.”

Visagie sê hy weet nie hoe om sy tienerseuns te troos nie. “Die tweeling is oor hul pa, maar hulle soek hul ma se touch.”

Johanna Lotriet (58) sê sy kan nie slaap nadat sy van haar kind se dood gehoor het nie.

“Ek kan nie eers my kleinkinders troos nie,” vertel sy.

Die atmosfeer in Touws­rivier was gister swaar.

Inwoners sê dis die eerste keer ooit dat so baie mense van hul dorp in een ongeluk dood is.

BITTER HARTSEER: Sylvia Julius het wonderbaarlik die ongeluk oorleef. Sy het twee familielede verloor. Foto: Melinda Stuurman

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters