13 dae gelede
Dorp rou oor voëltjievrou
VOËLTANNIE: Dalene Lourens is vermoedelik aan ’n hartaanval dood.  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – Antie Da­lene Lourens, beter bekend as die dorp se “voëltjievroutjie”, se eindfluitjie het geblaas.

Lourens (68) is Saterdag dood nadat sy vermoedelik ’n hartaanval gekry het.

Almal sal Lourens onthou wat daagliks met kierie in die hand en haar voëltjies op haar skouer deur die strate geloop het.

Lourens was baie lief vir voëls en het hulle versamel.

’n Vriend van Lourens, Jim van Tonder, sê sy het onlangs siek voorgekom.

Gil

’n Ander vriendin het haar die aand van haar dood gaan besoek.

Sy het toe aan Lourens gesê dat sy siek lyk en dokter toe moet gaan.

Nadat die vriendin dié woorde aan Lourens genoem het, het sy net een gil gegee en daarna gesterf.

Van Tonder sê die skok dat sy na ’n hospitaal moes gaan, was seker vir haar een te veel.

Mense het haar as ’n lieflike vrou beskryf wat haar voëls baie liefgehad het.

Haar geliefde voëls is ná haar dood aan ’n bekende voëlpark geskenk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters