Verlede maand
‘Dooie’ wil net bewys sy leef nog
Moedeloos: Sophie Cupido sukkel al 13 jaar lank met binnelandse sake.  ~ Peter Abrahams

WORCESTER. – Sy is springlewendig, maar is deur binnelandse sake dood verklaar.

Nou, meer as 13 jaar later, sukkel Sophie Cupido (64) steeds om home affairs sover te kry om hul “fatale” fout reg te stel. Vir amper ’n dekade en ’n half probeer sy hulle oortuig dat sy nie dood is nie.

Cupido se probleme het in 2007 begin toe ’n vrou van Caledon aansoek gedoen het om ’n Sassa-toelaag.

“Hul stelsel het my naam en persoonlike besonderhede uitgeskop.

“Die vrou se werkgewer het my toe gekontak en gesê ek moet binnelandse sake toe gaan en aansoek doen vir ’n nuwe identiteitsdokument.”

’n Moedelose Cupido vertel verder: “Die vrou, wie se naam ook Sophie is, en wat dieselfde identiteitsnommer as ek het, het intussen afgesterf en nou is ek ook dood verklaar. Ek het vir drie jaar met binnelandse sake baklei om my ID reg te maak. In 2010 het ek ’n nuwe ID-kaart gekry, maar nog met dieselfde identiteitsnommer.

“Ek het gedog hulle het die probleem op hul stelsel reggemaak.

“’n Paar jaar nadat ek die nuwe ID-kaart gekry het, het ek aansoek vir ’n toelaag vir ’n pleegkind gedoen en dieselfde probleem het weer kop uitgesteek.

“Ek was steeds dood op binnelandse sake se stelsel nadat ek ’n nuwe ID gekry het.

“Sedert Augustus ver­lede jaar het ek aansoek gedoen vir my UIF-geld en toe moes ek weer hoor dat ek dood is.

Beloftes

“Die beampte by die departement van arbeid het my ID-kaart teruggegee en wou weet of ek ’n spook is, want volgens my ID-kaart is ek reeds dood. Ek het teruggegaan na binnelandse sake en hulle het my ’n brief gegee wat ek vir die departement van arbeid moet gee om te bewys dat ek nog lewe.

“Die departement van arbeid wil dit nie aanvaar nie en stuur my elke keer terug na binnelandse sake­ toe.

“Binnelandse sake vertel my elke keer dat hulle dit reggemaak het op hul stelsel, maar dit wys steeds op die stelsel van die departement van arbeid dat ek dood is. Ek is al moeg van die oor en weer sukkel met hulle.

“Elke keer moet ek omdraai en hulle maak net leë beloftes. Ek werk nie en benodig my geld.”

Volgens Cupido moes sy ook by home affairs uitvind haar man is ’n wewenaar. Dít terwyl sy nog leef. Sy moes ook seker maak dat hulle dit regmaak op hul stelsel en dat haar man nie as ’n wewenaar aangeteken is nie.

Getrou aan hul reputasie, het Son teen druktyd nog g’n antwoord op ons navraag oor Cupido se geval by home affairs gekry nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters