Verlede maand
Dood wag toe in die kospot
BUURVROU: Elsie Davids vertel hoe hulle gesukkel het. Regs staan Lena Mentoor, wie se dogters dood is.  ~ Peter Abrahams

GRABOUW. – ’n Ma rou nadat haar enigste twee dogters aan voedselvergifting dood is.

Die seer is onmiddellik sigbaar op Lena Mentoor se gesig toe sy begin praat oor die dag dat haar twee dogters, Alexandra (12) en Lizaan (16), gesterf het.

Mentoor vertel haar hele gesin het op daardie noodlottige dag vroeër vandeesmaand voedselvergifting opgedoen. Sy sê hulle het siek geword nadat hulle spice geëet het wat van ’n trok afgeval het.

Volgens Mentoor het Lizaan se boyfriend ’n groot pak spice vir hulle gebring nadat ’n trok wat spices vervoer het, op die N2-hoofpad omgeval het.

Sy vertel hulle het ’n hele ruk van die spice geëet, maar op dié spesifieke dag het sy ’n klein wit pakkie gebruik wat binne-in die spice-pak was.

Mentoor vertel: “Ek het nie sout gehad nie en dis waarom ek dit gebruik het.

“Dit was nie eens lank nadat ons klaar geëet het nie, toe val ek om.

“Ek was hier voor die huis en kan net onthou hoe ek geskreeu en daarna op die grond beland het.

“Ons het eers gedink dis my bloeddruk oor ek hoë bloeddruk het.

“Die huismense het nog vir my dogter Alexandra geskreeu om die ambulans te bel, maar toe kap sy ook om.

“Ek het net gesien hoe sy styf raak en haar hande opmekaartrek. Toe ek dit sien, toe weet ek sy gaan dit nie maak nie.

Opgegooi

“Dit was so erg, niemand kon op hul voete staan nie.

“Toe die ambulans kom, is ek, my twee dogters en Lizaan se baba na die Grabouw-daghospitaal geneem.

“Dit was nie lank nie, toe kom my man en twee seuns ook met die ambulans hospitaal toe. Hulle het verskriklik opgegooi.

“My kleinkind se lippe en mond was potblou en hulle het baie hard probeer om haar lewe te red.”

Mentoor vertel sy was slegs vir een dag in die hospitaal; sy is die volgende dag ontslaan.

Haar een seun en dogter is na die Caledon-hospitaal geneem.

Mentoor is steeds baie deurmekaar en sê sy kan nie eintlik veel van die voorval onthou nie.

Haar neighbour Elsie Davids se kleindogter het ook van die kos geëet.

Davids het haar ingelig oor die gebeure van die nare voorval, sê sy.

Davids het aan Son gesê sy het glad nie geweet haar kleinkind het ook van die gif ingekry nie.

Eers toe sy begin opgooi en bewe, het sy agtergekom iets is fout met haar.

Davids vertel: “Toe ek hier by Lena-hulle se huis kom, toe bewe haar man en haar seuns het opgegooi.

“My kleinkind het toe vir my gesê sy het ook van die kos geëet. Sy speel mos met Lena se dogter se baba.

“Ek was eintlik op pad om te gaan lê, maar toe gebeur dit en ons is toe ook daghospitaal toe.

“By die daghospitaal was daar speurders en hulle het my gevra wat fout is oor die kind aanhoudend opgegooi het. Haar masker was skoons sopnat van die gekots.

“Ek het vir die speurders gesê sy was ook deel van die etery en dis met dié dat ons in is by die daghospitaal.

“Hulle het net vir haar ’n sakkie water gegee om te drink. Daarna het sy vier keer opgegooi.”

Volgens Mentoor het ’n nadoodse ondersoek bewys die kinders het voedselvergifting opgedoen. Sy sê sy blameer haarself nog elke dag oor sy die een is wat die kos gemaak het.

“Ek weet nie hoe ek deur alles gaan kom nie.

Begrawe

“Ek kan nie eet nie en saans kan ek nie slaap nie.

“Ek sal moet berading kry, want ek is die ene bewerasie.

“Ek is net dankbaar my kleinkind het agtergebly,” sê ‘n huilende Mentoor.

Volgens Mentoor sal hulle die kinders Sondag begrawe nadat die begrafnispolis Woensdag uitbetaal het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters