Verlede maand
Dood gewag vir Sassa-geld
NIE REG NIE: Nomini Madubela se lyk lê net so op die sypaadjie langs die Gerald Wright-saal.  ~ Foto Verskaf

GRABOUW. – Sy het haar morsdood gewag in ’n Sassa-ry nadat haar grant gestop is.

Nomini Madubela (55) van Rooidakke het Vrydag kort ná 07:00 in die Sassa-ry buite die Gerald Wright-gedenksaal dood neergeslaan.

Volgens Isabel Bailey, ’n gemeenskapsleier, het Madubela al vanaf die Donderdag daar gestaan in die hoop om gehelp te word.

Bailey vertel daar was niks kos in Madubela se huis nie.

Toe haar grant skielik vandeesmaand gestop is, het dit dinge net moeiliker vir hul gesin gemaak.

Bailey vertel: “Voordat sy in die ry gaan staan het, het sy niks te ete gehad nie.

“Niemand in hul huis werk nie en die dag van haar dood het haar dogter uitgegaan vir ’n werk sodat sy vir hulle kos kan koop.

“Sy is maar ’n seisoen­werker.

“Die vrou het al vanaf Donderdag 16:00 in die Sassa-ry gestaan, want ek het nog daar verby gery en haar gesien.

“Die aand 22:00 het die polisie daar omgegaan en hulle aangesê hulle moet hul name gee sodat hulle die volgende dag gehelp kan word.

Ambulans

“Die volgende dag was sy al 07:00 in die ry.

“Die twee vroue tussen wie sy gestaan het, het gesê dit was skaars 07:05 toe kap sy om.

“Toe die ambulans kom, het hulle gesê sy is alreeds dood.

“Haar dogter het gesê sy het niks geëet nie.”

Bailey sê lede van die gemeenskap het haar kom haal nadat Madubela dood neergeslaan het.

“Dit was seer en hartseer om haar so hulpeloos te sien lê.

“Ek het haar liggaam sommer met ’n kombers toegevou,” sê Bailey.

Volgens Bailey voed sy nou daagliks Madubela se kinders en kleinkinders.

“As hulle nie gekookte kos kom haal nie, kry hulle ’n hamper.

“Ek gebruik selfs van my eie kos om met hulle te deel.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters