16 dae gelede
Doele teen ledigheid
kinders vannie baan: Netbal hou dié kids besig en weg van die “monsters”. Foto’s: BASIL DAVIDS  ~ 

ROBERTSON. – Netbal hou hulle veilig en uit die kloue van “monsters”.

So sê Maritsa Joseph (22), wat met ’n briljante idee vorendag gekom het.

Danksy Joseph se idee hou meisies so jonk as vier hulle elke naweek hier besig om netbal te speel.

So bly hulle veilig onder die toesig van gemeenskapslede en hulle ouers.

In die woonbuurt Môreson het ouers ’n stuk grond wat vir jare nie gebruik is nie, omskep in ’n netbalbaan.

’n Trotse Joseph het aan Son gesê: “Ek wil ’n verskil maak, veral in jong meisies se lewens.”

Joseph sê sy het gesien jong meisies het niks waarmee hulle hulle besig hou nie, veral oor naweke.

Sy sê in Môreson is baie jong kinders ook slagoffers van misdaad.

Onlangs is drie meisies in Môreson deur hulle eie pleegpa verkrag.

Son het toe berig dat die man diep in die tronk gestop is oor die gru-dade wat hy met die arme kinders aangejaag het.

Nog ’n daddy is uit op parool nadat hy tronkstraf uitgedien het vir die verkragting van sy tienermeisiekind.

Die meisiekind moes ’n aborsie ondergaan omdat sy swanger was van hom.

Joseph vertel sy het die meisies byeen geroep en vir hulle gesê sy sal hulle leer om netbal te speel.

Joseph sê die hele gemeenskap was ingenome met haar plan.

Baie van die inwoners het gehelp om die oop vlakte in ’n netbalbaan te omskep.

“Ek is so bly die kinders geniet hulle netbalbaan,” sê Joseph.

“Die mense stroom naweke oor om te kom kyk hoe verskeie spanne van die buurt en ander woonbuurte teen mekaar meeding.”

’n Ouer wat langs die baan gesit het, sê haar dogter (15) neem ook deel.

Die ma vertel: “Sy was besig met verkeerde dinge, maar vandat Maritsa hulle afrig, is sy elke dag ná skool op die baan.”

Aanplant

Nog ’n ouer, Samoan Beukes, sê hulle is baie dankbaar teenoor Joseph.

Beukes sê: “Ons kinders is die victims van misdaad, maar naweke is hulle baie veilig hier.”

Joseph sê volunteers kan kom gras aanplant vir die baan.

Belangstellendes en diegene wat wil bydra met borgskappe kan Joseph gerus bel by 084 403 3338.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters