4 maande gelede
DNS sal lyk moet uitken
reeksmoordenaar:Johan Williams verskyn vandag weer in die hof.  ~ 

HOEWEL die vermeende Wellingtonse reeksmoordenaar aan die polisie uitgewys het waar hy Natalie Jonkers ses jaar gelede begrawe het, gaan dit nog lank wees voordat hulle weet of dit wel sy is.

Die cops het Dinsdag eers DNS-monsters van Jonkers se familie geneem wat op die plaas Ongegund in Wellington woon.

’n Bron na aan die ondersoek het dít aan Son bevestig.

Volgens die bron het Johan Williams laas week oorskot aan die polisie op die Lady Loch-pad uitgewys. Hulle kan egter nog nie met sekerheid sê of dit wel dié van Jonkers is nie.

Die bron het ook aan Son bekend gemaak dat Williams tot dusver nog net drie lyke uitgewys het, maar dat hy nog nie in verband met Jonkers­ se moord aangekla is nie.

Die bron ontken dat hulle ’n vierde lyk gevind het.

Die bron vertel: “Op hierdie oomblik word Natalie se saak steeds hanteer as ’n vermiste persoon.

“Johan is nog net aangekla vir die moorde op Chantell Matthysen en Maria Isaacs.

“Eers wanneer ons die DNS-uitslae ontvang en dit positief verbind kan word, kan ons hom vir die moord op Jonkers aankla.

Die bron sê die polisie is besig om te soek na vroue wat oor die jare deur Wil­liams­­­ uitgelok is met die belofte dat hy aan hulle werk gaan bied.

Dít kan dien as bewys dat hy ál sy moorde vooraf beplan het, vertel die bron.

Die bron sê Williams het soos ’n kanarie gesing tydens ondervraging oor hy geweet het dat hy vas is.

Volgens die bron het hy later bevestig dat hy die polisie om die bos gelei het om meer tyd te koop.

Hoewel Williams nog nie verklap het hoe hy al sy lyke by die Lady Loch-pad gekry het nie, dink die polisie dat hy die vroue eers lewend tot daar geneem het.

Die bron sê: “Al die lyke wat gevind is, was almal dik aangetrek.

“Dis mos koud om daardie tyd van die nag te loop.

“Hy moes hulle tot daar gelei en toe doodgemaak het.

“Almal van hulle is al die eerste dag doodgemaak en as hulle langer gelewe het, sou dit ’n miracle wees.”

Sarien Engelbrecht, ’n welbekende prokureur in Wellington, verteenwoordig Williams vandag­ in die Wellington-landdroshof.

’n Administrateur van die firma Engelbrecht Prokureurs het aan Son bevestig dat sy opdrag gegee is om hom te verteenwoordig.

Volgens die bron gaan Williams­ ’n borgtogaansoek bring.

Die bron sê: “Hy glo tog hy gaan op borgtog vry kom.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters