Verlede maand
Dit begin met jóú
Stap een: Willem Michaels beantwoord ’n paar vrae voordat die proses kan voortgaan en hy sy entstof kan ontvang.  ~ Jonathan Lestrade

HY HET nog ’n bietjie getwyfel of hy die entstof moet kry, maar toe onthou hy wat die belangrikste is: die gesondheid en welstand van sy familie.

Willem Michaels sê dis om dié rede dat hy gister besluit het om van sy huis in Groenheuwel te reis na die TC Newman-gemeenskapsgesondheidsentrum in Paarl-Oos om sy eerste jab te ontvang.

“Dit was sommer ’n early verjaardaggeskenk aan myself,” verduidelik hy.

Die 61-jarige Michaels verjaar vandag en sê die geleentheid kon nie op ’n beter tydstip gekom het nie.

“As ons vir ons familie en vriende wil omgee, begin dit by onsself. Ja, ek weet baie mense is skepties oor die entstof en wil dit nie kry nie, maar wees gerus dat alles mooi aan jou verduidelik sal word voordat jy die jab kry.

Gedek

“Ek is baie tevrede met die diens wat ek ontvang het. Ek sal nou my ou maatjies wat by die huis sit en twyfel aanraai om hul mind te change­ en die jab te kry,” sê hy.

Michaels sê hy sien uit om vir sy tweede jab terug te keer.

“Ek het my datum gekry en sal definitief terug wees om my tweede jab te kry. Dan weet ek ek is heeltemal gedek en het ’n beter kans om die virus te beveg,” sê hy.

Die TC Newman-sentrum is een van sewe plekke wat hul deure oopgemaak het as inentingspersele.

Sandra Maritz, ’n gesondheidswoordvoerder, sê TC Newman is ’n gemeenskapsdagsentrum (oftewel daghospitaal).

“Dit was die eerste van ons fasiliteite in die Drakenstein wat op 31 Mei met Covid-19-inentings begin het en 13 316 het tot dusver hul entstof daar ontvang,” sê sy.

“Elke fasiliteit wat Covid-19-inenting bied, het ’n sekere hoeveelheid entstof beskikbaar vir die dag. Afhangend van die aantal inentings wat beskikbaar is, maak ons ??afsprake vir mense wat geregistreer het. Ons maak ook voorsiening vir mense wat sonder ’n afspraak opdaag.

“Afhangend van hierdie faktore, kan daar tot ses inentingstasies wees met ses inenters en ’n administratiewe personeellid by elke stasie.”

Maritz sê mense wat met ’n afspraak kom, word na die wagarea geneem vir inenting of direk vir inenting as daar ’n stasie beskikbaar is.

“As iemand geregistreer is, maar nog nie ’n afspraak-SMS ontvang het nie, sal personeel hulle na die wagarea lei vir inenting, indien moontlik.

Hoeveelheid

“As iemand in aanmerking is vir inenting, maar nog nie geregistreer is nie, sal personeel hulle met registrasie help as hulle na een van ons inentingspersele kom. Afhangend van die beskikbaarheid van entstof op daardie dag, kan die persoon ingeënt word,” sê sy.

Maritz sê as dit jou beurt is vir inenting, sal die personeel jou besonderhede bevestig, algemene vrae oor jou gesondheid vra en vrae beantwoord. Ná inenting word kliënte gevra om 15 tot 30 minute in ’n area te bly vir waarneming.

Sy sê verder die entstof wat toegedien word, hang af van beskikbaarheid en logistiek.

Tans gee hulle Pfizer-entstof (’n tweedosis-entstof) en vra dat individue terugkeer vir hul tweede dosis soos deur die gesondheidsorgwerker aangedui.

“Ons gee ook die J&J-entstof vir praktiese redes aan sommige groepe soos plaaswerkers,” verduidelik sy.

Maritz sê hulle het gemotiveer om nog mense aan te stel.

Die volgende fasiliteite van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement en ander fasiliteite, wat in vennootskap met rolspelers bestuur word, bied tans Covid-19-inenting van Maandag tot Vrydag aan:

  • TC Newman-gemeenskapsentrum (08:00-15:00)
  • Mbekweni-gemeenskapsaal (09:00-15:00)?
  • Huis Macrone-kliniek (09:00-15:00)?
  • Saron-kliniek (14:00-15:00)
  • Gouda-kliniek (14:00-15:00)
  • Thusong-sentrum, Polapark (09:00-15:00)
  • Wellington-gemeenskapsentrum (14:00-15:00)
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters