20 dae gelede
Dis ’n skande!
broodwinners: Die kinders skarrel vir geld en kos.Foto’s: basil davids  ~ 

ROBERTSON. – Hy is net ses jaar oud, maar sit elke dag ’n brood op sy gesin se tafel.

Bedel is die kleintjie se daaglikse werk.

Hy is nie die enigste kind in die area wat van soggens vroeg tot saans laat aal­moese vra nie.

Straat

Gister het ’n paar van die kinders wat voor ’n bekende supermark vir iets skarrel, met Son gepraat.

Hulle het vertel hulle bly op straat en bedel elke dag om hul honger mae te stil.

Die sesjarige sê sy ouers kan nie vir hom sorg nie. Albei het TB.

“My ma en pa is bedlêend en te swak om te werk,” vertel hy.

Volgens hom is hy die broodwinner. Saans gaan hy darem met minstens ’n brood huis toe.

’n Agjarige laitie sê hy gaan nie meer skool nie.

“Ek het ook maar besluit om by my tjommies aan te sluit en vir kos te bedel.”

Volgens hom slaap hy op straat omdat sy ouers hom weggegooi het.

Hy sê hy is oorspronklik van Worcester.

“Hier in Robertson gee mense darem nog vir ons geld of ’n loaf brood.

“Nie in Worcester nie. Ons word liewer aan­gerand.”

Volgens die laities rand hulle nie mense aan of beroof hulle nie.

“Ons vra die mense baie mooi vir kos of ’n paar sente.”

Welsyn

Een van die dorpenaars, Moreal Galant, sê sy kan skaars by die winkel ingaan, want die klomp kinders staan die deur vol.

“Ek is baie bekommerd oor die kinders.”

Galant dink die welsyn moet intree, want die kinders het geen toekoms nie.

’n Gemeenskapswerker, Linda Botha, sê sy het al met van die kinders gepraat. Sy het voorgestel dat hulle na hulle ouerhuis teruggaan.

“Ek het ook al ’n paar kinders terug by die skool gekry.”

Volgens Botha sal sy toesien dat die kinders by ’n kinderhuis gaan bly sodat hulle ’n beter kans het om iets in die samelewing te word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters