13 dae gelede
Digter wreed vermoor
OP TONEEL DOOD: Philippus Spogtert is dood nadat ’n crowd hom aangerand het.  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – ’n Plaas­like digter het ’n wrede dood gesterf toe hy na bewering met ’n stomp voorwerp doodgeslaan is.

Philippus Spogtert (37), ’n pa van drie, is Sondagmiddag helder oordag vermoor. In ’n video van die voorval wat Son onder oë gehad het, staan Spogtert omring deur ’n crowd.

’n Vrou haak af en klap hom, dan ’n man, waarna ’n persoon hom dan met iets slaan wat soos ’n base-ball bat lyk.

Later wys die video hoe Spogtert bewusteloos in ’n jaart lê terwyl ’n vrou poog om hom met water by te bring.

Voorval

Son het in die verlede berig oor Spogtert, wat graag ’n digbundel die lig wou laat sien, maar geld het hom altyd gepootjie.

Hy het ook gereeld van sy gedigte by gesellighede voorgedra.

By Son se besoek gister was die familie nog baie hartseer.

Spogtert se vrou, wat verkies om nie haar naam in die koerant te noem nie, se gesig was vol krapmerke.

Toe sy daaroor gevra is, was haar antwoord net dat die hele voorval daaroor gegaan het (die krapmerke aan haar gesig). Sy wou egter nie daaroor praat nie.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, het die voorval bevestig waarin Spogtert vermoor is.

Gearresteer

Volgens haar is die slagoffer met ’n stomp voorwerp geslaan en hy het weens die aard van sy beserings op die toneel gesterf.

Rwexana sê drie verdagtes is gearresteer en sal eersdaags op ’n klag van moord in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters