Verlede maand
’Die skool is ’n mynveld’
Survivor: Die skoolhoof Ronald Bantom (57) het tergende vrae. FOTO VERSKAF  ~ 

HOEVEEL onderwysers moet eers weens Covid-19 sterf voor iemand ingryp?

Dis wat Ronald Bantom (57), hoof van die Kasselsvlei Comprehensive High School in Bellville-Suid, wil weet.

Bantom, ’n diabeet met chroniese hoë bloeddruk, is ’n Covid-19-survivor.

Hy is meer as ’n week gelede ontslaan uit die Netcare Kuilsriver Hospitaal, waar hy die virus laat les opsê het.

Bantom is in Mei positief getoets vir die virus nadat sy dogter dit gehad het.

“Ek, my vrou en ons seun het saam gegaan vir toetse. My vrou het eerste haar uitslae gekry. Sy was positief.”

Hy sê hy seun is na hul huisdokter vir hulle uitslae. “My seun was negatief, ek nie.” Hy vertel dat sy dokter hom ondersoek en sy bloeddruk geneem het.

Baklei

“Ek het nie die lesing gesien nie, maar ek kon die bekommernis op my dokter se gesig sien.” Hy is toe na die hospitaal verwys.

Toe ek my vrou en kinders groet, het ek geweet daar is ’n kans dat ek dit nie gaan maak nie. Maar ek het hulle belowe dat ek hard gaan baklei teen die ding.”

By die hospitaal het hulle hom by ontvangs ingewag. “Ek is met ’n plastiek toegegooi en met ’n rolstoel ingevat.”

Bantom sê hy was eers vreesbevange.

“Die dokter het sy hand op myne gesit, my in die oë gekyk en gesê: ‘Ek weet nie met watter gedagtes jy hier ingekom het nie, maar almal wat hier inkom, stap weer hier uit.’ Toe hy dít sê, het ek gevoel hoe daar ’n change in my gemoed kom.”

Hy vertel dat hy daar die besluit gemaak het dat hy nie aan Covid-19 sal sterf nie. Hy sê die personeel by die hospitaal het ook ’n groot rol in sy gemoedsrus gespeel.

“Van die skoonmakers, die mense wat jou kos bring, ondersteunende personeel en tot die spesialiste stel jou gerus.”

Die Bantom-gesin van Tuscany­ Glen, is nou Covid-19-vry.

Volgens Bantom is die bestanddele van die wenresep om Covid-19 te survive of moer toe te maak, soos sy vriend genl.maj. Jeremy Vearey dit stel, só saamgevat.

“Hoe vroeër jy jou laat toets, hoe beter. Maak seker jy is in die regte mense se sorg. Jy moet positief ingestel wees en ek het geloof gehad dat God my gaan deurdra.

Samewerking

“Jou support system, wat uit vriende en familie bestaan, speel ook ’n groot rol. Ek het seker oor die duisend oproepe en boodskappe gekry toe ek in die hospitaal was. En laastens moet jy jou volle samewerking gee. Jy kan nie net daar lê en wag nie.”

Hoewel Bantom die virus op die neus geslaan het, treur hy oor die ander onderwysers wat dit nie gemaak het nie.

“Ek is 35 jaar in onderwys en wil nou aftree. Die skool is soos ’n mynveld. Baie onderwysers en kinders gaan nog sterf aan die virus en daarvan wil ek nie deel wees nie.

“Toe die eerste onderwyser weens die virus gesterf het, moes dit een te veel gewees het. Dit is my pleidooi dat die WKOD die heropening van skole heroorweeg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters