2 maande gelede
Die skok: Hart eis 16-jarige
verlang: Anzelle se ouers, Salmon en Cheryl-Ann, en haar broertjie, Ashley, het nou net foto’s van haar oor.Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

DIE Hoërskool Wellington is geskok nadat ’n leerder aan ’n hartaanval gesterf het.

Anzelle Sheldon (16), van Hermon, het Dinsdag op haar eerste dag terug by die skool voor die hek inmekaargesak.

Sy het in die Bergrivier-koshuis gewoon en naweke en vakansies huis toe gegaan.

Anzelle was nog Maandag by haar ouerhuis. Toe haar ouers die tyding kry, kon hulle nie verstaan nie. Sy was dan perdfris en gesond.

Pynpille

Anzelle se ma, Cheryl-Ann Sheldon, vertel haar kind het Donderdag van ’n pyn op haar bors gekla. Sy wou toe vir haar pynpille injaag.

Cheryl-Ann onthou: “Sy het begin huil. Ek het gesê sy moet pynpille drink, maar sy wou nie. Agterna, toe ek haar weer vra, toe sê sy die pyn is weg.”

Volgens Cheryl-Ann het Anzelle nog haar klere, beddegoed en skoolsak gewas vir die nuwe kwartaal.

Toe die taxi haar kind kom oplaai, het sy koebaai gesê en ’n soentjie gegee, sê Cheryl-Ann.

Hartseer: Anzelle se ma, Cheryl-Ann, kan nie haar dogter se dood verwerk nie.

Anzelle se pa, Salmon, sal nooit die koshuismoeder se onheilspellende woorde aan hom oor die foon vergeet nie: “Maak dat jy vinnig by die Paarl-hospitaal uitkom.”

Salmon vertel: “Toe ek daar kom, was sy reeds dood. Hulle wou my seker nie oor die foon sê nie.

“Sy het in haar skoolklere op die bed gelê. Sy het gelyk soos een wat slaap.

“Ek het vir haar gesê ek is lief vir haar.”

Volgens Salmon het die dokter gesê hy het ’n sonar van haar hart geneem en opgelet daar was vog om die hart.

Vog soos dié kan ’n hartaanval trigger.

Die dokter wou toe by Salmon weet of enige iemand in die familie met hartprobleme sukkel.

Salmon sê hy het self ’n gaatjie in sy hart, maar niemand anders­ het sulke issues nie.

“Ek kan dit steeds nie aanvaar nie,” sê Salmon in trane.

“Sy was my enigste dogter ...”

Salmon sê hulle kan eers hulle kind se lyk uitken wanneer die nadoodse ondersoek klaar is.

Die skoolhoof, Harvey Cupido, het aan Son bevestig Anzelle het pas by die skool aangekom toe sy inmekaarsak.

Volgens Cupido het hulle dadelik die ambulans gebel om haar na die Paarl-hospitaal te neem.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters